top of page

UITREIK

HOE KAN JY BETROKKE RAAK

Wat doen Diensgroep Uitreik?

 

Diensgroep Uitreik is die kanaal waardeur Stellastraat in navolging van Jesus probeer help waar daar nood is.  Die diensgroep moet deurentyd aanpasbaar wees by veranderende omstandighede.  Die situasie is nooit staties nie, maar teen einde 2024 lyk die prentjie min of meer soos volg.

 

Hoe gaan Diensgroep Uitreik te werk?

​

Waar moontlik, probeer ons saamwerk met vennote en bekwame instansies wat weet hoe om in verskillende situasies te werk, en wie se hande ons kan sterk maak om daardie werk te doen.  Hierdie vennote sluit die volgende in:

​

  • Booysens Beertjies Kleuterskool in Claremont

  • Die Bybelgenootskap

  • Die Gideons

  • Die Christelik-Maatskaplike Raad

  • Groei Goggas Kleuterskool in Danville

  • Geseënde Hande (Kosvoorsiening in Danville)

  • Die Groenkloofbediening van Universiteitsoord (via die Ring)

  • Faith in Community (’n sentrum vir kontekstuele bediening by Tukkies)

  • Harmonie-oord tehuis vir bejaardes

  • HJ Piek tehuis vir bejaardes

  • Horison-sorgsentrum vir gestremdes

  • Jakaranda-kinderhuis (Huis 8)

  • Noordelike sinode van die NG Kerk

  • Operation Healing Hands (operasies vir mense wat dit nie kan bekostig nie)

  • Verskeie bedienings van PEN (Participate. Envision. Navigate.):

-     PEN se Kleuterskoolforums

-     Pennies-kleuterskool

-     PEN se bediening aan behoeftige volwassenes

  • Stellastraat Faith Community

  • Die Verenigende Gereformeerde gemeente Mabeskraal

  • Die Verenigende Gereformeerde gemeente Mamelodi-Oos

 

Ons werk ook saam met donateurs wie se bydraes nie deel vorm van Stellastraat se uitreikbegroting nie.

  • Die Amerikaanse hulporganisasie Adopt a South African Preschool (ASAP) het oor die afgelope paar jaar reeds ’n paar miljoen rand aan Stellastraat oorbetaal wat gebruik word om opvoedkundige speelgoed vir PEN se kleuterskoolforums aan te koop.  Vanuit Stellastraat is daar nou ’n nie-winsgewende organisasie op die been gebring, deur wie die bydraes gekanaliseer gaan word.  Dié organisasie staan bekend as ASAP-SA.  Vir meer inligting skakel Marlese Nel by 083 287 3763.

  • SPAR skenk elke twee weke 84 sakke mieliemeel van 12,5kg elk wat aan verskillende van ons vennote versprei word.  Vir meer inligting skakel Koos van der Merwe by 083 327 1590.

 

Diensgroep Uitreik pak deur die loop van die jaar verskeie projekte aan en van hulle sluit in:

  • Terug Skool Toe "Tassie Projek" - ’n projek wat aan kinders van ons kleuterskoolvennote, ’n skooltassie met skryfbehoeftes skenk.  Vir inligting skakel Eleanor du Preez by 082 940 4177 of dupreez.eleanor@gmail.com.

  • Die "Popklere Projek" - wat popklere as deel van die opvoedkundige speelgoed vir PEN se Kleuterskoolforums maak.  Vir meer inligting skakel Ida Nel by 083 458 1096.

  • "Operasie-restourasie" - herstelwerk deur lidmate en / of kontrakteurs by van ons vennote.   As jy by geleentheid daarmee sou kon help, skakel Fay van Eeden by 083 479 0854 of fay@stellastraat.co.za.

  • "Stellastraat Sopkombuis" -  een maal per week vir behoeftige straatmense.  Vir meer inligting skakel Annali Botha by 082 821 7148 of adhbotha@gmail.com.

  • Omgewingsorg.  Bewusmaking van die belang van die omgewing is vir Stellastraat baie belangrik.  Gewoonlik plaas ons in die lente ’n spesifieke fokus daarop.  As jy op enige manier hierby betrokke wil wees, skakel met Fay van Eeden by 083 479 0854 of fay@stellastraat.co.za.

  • "Stellastraat Herwinningsentrum" - Die herwinning van afvalmateriale (glas, aluminium, plastiek, papier en karton).  Bring gerus jou herwinbare afval na die herwinningsentrum in die parkeerterrein.

  • "Blikkiesondag" - waarvan die opbrengs aan vennote (op hierdie stadium Harmonie-oord) versprei word.  Vir meer inligting hieroor, skakel Fay van Eeden by 083 479 0854 of fay@stellastraat.co.za.

  • ’n Klerestoor.  Klereskenkings word na verskillende vennote versprei, onder meer deur klereverkopings van die Stellastraat Faith Community.  Vir meer inligting hieroor, skakel Elize van der Linde by 083 444 2555.

  • Danvillemiddagete.  Een maal per kwartaal gee ons ’n middagete vir mense wat in Wendyhuise in Danville woon.  Dis ’n geleentheid waartydens Stellastraters ook kan sien waar Geseënde Hande sowat 16,000 maaltye per maand vir behoeftiges voorberei.  Die datums word op die gemeentekalender aangedui.  As jy wil saamgaan of help, skakel Rachel Combrinck by 084 5985 985 of rachelcombrink@gmail.com

 

Daarby moet Diensgroep Uitreik deurentyd gereed wees om op kort kennisgewing te reageer op verskillende vorme van nood.  Dit kan kom as lidmate, vennote of ander mense skielik met ’n spesifieke behoefte na ons toe kom, en ons moet kyk of ons sinvol kan help.

 

Hoe kan lidmate van Stellastraat help?

 

  • Skakel in by of neem deel aan enige van die aksies hierbo genoem.

  • Ondersteun die gemeente geldelik.  Die uitreik-uitgawes is deel van die gemeente se begroting.  Lidmate kan ook ’n spesiale bydrae vir die uitreikwerk maak, deur ’n elektroniese oorbetaling na Stellastraat se rekening te doen, met verwysing “Uitreik” of die naam van die instansie of projek wat u wil ondersteun.

  • Deur aan te sluit by Diensgroep Uitreik en ons te help dink en moontlik te help doen as daar iewers hande nodig is.  Kontak vir Fay van Eeden by 083 479 0854 of vir Louise Jackson by 082 469 9704.

  • Bid vir Stellastraat en ander uitreikbedienings.

​

Diensgroep Uitreik se bede is dié van Franciskus van Assisi wat vervat is in Lied 284: “Laat, Heer, u vrede deur my vloei …”

  • Facebook - White Circle

NG KERK STELLASTRAAT © 2021

bottom of page