Die Pieke skuil in mis of wit kapok
bo lensie-, ertjie-, spek-en-boontjiesop
wat damp teen vensters en wit gewelmure.
Bottels rooiwyn warm aan voor kaggelvure
en in houtbakke volgens die seisoen
staan koejawels opgestapel en soetlemoene.
Ons sal soms met intiemer tongval praat:
kerriekos eet, varkrib en bruin wildsbraad,
souskluitjies met kaneel, gesproete pannekoek.
Wanneer jou kop sy reglê op die kussing soek,
raas die Eersterivier harder en vol,
en in jou word die klippe ronder omgerol.
Winter uit Grondstowwe by die siklus van seisoen
D.J Opperman se gedig oor die winter in Stellenbosch praat met my. Die beskrywende reuke, klanke en ervarings waarna hy verwys, maak dat ek dadelik ‘n kombers nader wil sleep en voor die kaggel ‘n boek wil lees (met ‘n glas rooiwyn).
Dit lyk vir my dat as dit by winter kom, daar min draadsitters is – óf jy hou van die winter en die winter se dinge, óf jy verpes die seisoen en alles wat dit bring. Aan watter kant jy jou ookal bevind, die winter bring vir ons uitnodigings. Miskien nooi die langer nagte jou uit na meer rus of slaap, en die korter dae ons na ‘n plek van minder doen en meer wees. Die koue se uitnodiging is dalk na meer tyd by en in die huis saam met geliefdes, en die beperkte beskikbare seisoenale produkte na eenvoudiger etes. Ek sien die weer-buro voorspel koue vir die naweek. Geniet die laaste stukkie winter en al die uitnodigings wat dit bring, want die Lente is oppad! Liefde Fay
留言