Die toekoms is ‘n ‘magneet’. Ons kan die krag van die toekoms nie weerstaan nie. Of ons dit nou wil weet of nie, die onbekende toekoms kom altyd nader, nader nader. Baie van ons is bang vir die toekoms. Vir baie van ons is die toekoms donker, en in simbiose met ons vrees, sit ons die toekoms se donker hoed op. Al wat ons sien, is moeilikheid wat aangerol kom.
Tog is ons nie almal so nie. Daar is ander wat die donker ignoreer, en al waarna hulle opsoek is, is geleenthede. Die donker wolke moet maar kom en gaan, wat ons opgewonde maak is wat agter en tussen die onbekende teenwoordig is: geleenthede!
Omdat ons persoonlikhede verskil, kan ons mekaar nie programmeer om te dink soos ons dink nie. Ons verskil gewoon omdat ons geaardhede verskil. Wat die kerk wel kan doen is om te sê dat ons nie bang is dat die donker ons sal oorweldig nie. Ons glo in die Lig. Die Lig wat sterk is en wat nie uitgedoof kan word nie.
Ons weet daar kom moeilike tye, maar vir ons is die toekoms nie ‘n vernietigende magneet nie. Daar is méér as donkerte in die aankomende onbekende, daar is ook ‘n ‘Magneet’ wat voortdurend hoop in ons harte uitstort.
Comments