Gee die mens net vir homself om, of is ander mense se geluk vir hom net so belangrik soos sy eie? Wat is die mens regtig? Is homo sapiens eintlik maar soos roofdiere wat elke dag moet sorg dat hy die sterkste, die rykste, die vinnigste moet bly? Is die mens in sy wese selfsugtig, of is die mens in sy wese besorg oor ander se welstand?
Wanneer ‘n mens die huidige oorlogzones in die wêreld betrag, en die plekke van politieke onstabiliteit en korrupsie, dan is die antwoord voor die handliggend. Selfsug is die grootste dryfveer in die mens. Mense kan die verskriklikste goed aan mekaar doen, en gewetenloos wees daaroor.
Gelukkig is daar ‘n ander kant. En ek dink dit is die sterkste kant. Baie mense, die meerderheid van homo sapiens, gee meer vir ander mense om as vir hulleself. En die motief vir omgee is nie net ter wille van oorlewing nie. Die motief lê daarin dat liefde en deernis diep wortel geskiet het in die mens. Dalk nie oral ewe diep nie, maar wat ons vandag in gewone mense sien, is voortdurende omgee vir ander. Hoe het empatie wortel geskiet? Dalk is dit iets wat in die mens ingebore is? Dalk het empatie en omgee deur die eeue in die mens ontwikkel? Of dalk het godsdiens, soos om Jesus na te volg, mense geïnspireer om ander se belange voor op te stel?
Waarvan ek wel oortuig is, is dat die goeie altyd sterker is as die kwade. As dit nie so was nie, sou ons lankal nie meer hier gewees het nie.
Comentarios