Glo die kerk nie meer in wonderwerke nie? In die epifanie-seisoen waarin ons nou is, word dikwels na Jesus se wonderwerke verwys. Dit is mos wat hy gedoen het toe hy as mens op aarde geleef het? Water in wyn verander, brood vermeerder, die weduwee se seun se lewe teruggee, en nog.
Sommige sê die geskiedenis het ‘n strepie getrek. Die wonderwerke voor die strepie is genoeg vir mense om te kan glo. Ander sê die wonderwerke is later deur skrywers in Jesus se lewe ingeskryf sodat volgende generasies kon glo dat Hy regtig God was. Want net God kan die buitengewone doen.
Die tipe wonderwerke waarvan ons in die Bybel lees, gebeur nie meer vandag nie. Altans nie in die algemeen en in die openbaar nie. Daar is egter talle mense wat daarop aanspraak maak dat wonderwerke met hulle gebeur het – dog meestal moet ons op dié mense se eie getuienis staatmaak. En dit is reg dat ons mense se ervarings van wonderwerke respekteer.
Die buitengewone gebeur nog. Hoewel lewe in ritme en seisoene verloop, is daar buitengewone dinge wat kleur aan lewe gee. Wat vir ons asemrowend mooi en verrassend is. Vir my is Sheila Cussons se beskrywing dat daar daagliks ‘n duisend mirakels in ons lewe voorkom, genoegsaam. Die lewe, die liefde, die omgee, die talente van mense, die geboorte van alles wat lewe, alles is wonderwerke. Niks is vanselfsprekend nie. Die soek na die groter soort wonderwerke gaan jou moeg laat.
コメント