top of page
Search
Writer's pictureJames Kirkpatrick

Wat die Here vir my dié week gesê het.

“Die Here het vir my gesê”. Ek hoor mense dié aanspraak maak en hulle voorsien ’n vers uit die Bybel of verwys na een of ander mistieke religieuse ervaring. Ek moet bely dat ek daaroor skepties is. Tog glo ek aan iets soos sinkronisiteit. Dit is die ervaring dat ’n klomp gebeure in tyd saamvloei en jou laat aanvoel dat dit jou in ’n rigting neem of jou iets van die lewe leer. Ek wil dit waag om dit aan die werking van die Gees toe te skryf. Dit is nie altyd eenduidig of voor-die-hand-liggend nie. Die Gees waai waar Hy wil. Maar dit is daar. Die afgelope week was vir my die ervaring van so stuk sinkronisiteit wat met jou praat.


Woensdagoggend vroeg lê ek in die bed en lees in Wilhelm Jordaan se rubriek van Homo corruptus, “die mens wat die innerlike krag van die samelewing vernietig deur die plunderende krag van korrupsie”. Later die oggend lewer RSG verslag oor die miljoene kinders in ons land wat elke aand honger gaan slaap. Deur die loop van die dag neem ek in ‘n vergadering kennis van gemeentes wat doleer (beswaard is) oor die kerk wat wil ruimte maak vir gay mense. Hulle gee ook kennis dat hulle nie meer gaan bydra vir die werk wat die kerk doen nie. Terug oppad huis toe die aand slaan die sinkronisiteit van die drie dinge my op die krop van my maag. Korrupsie, honger kinders en gemeentes wat beswaard is en hulle bydraes weerhou. Die drie dinge saam laat my wonder oor hoeveel van die Evangelie ons verstaan. Die blatante korrupsie van Digital Vibes en die meer subtiele weerhouding van kerklike bydraes gryp die kos uit kinders se monde. Die Digital Vibes klap kon ek sien kom. Die kerk-hou is n steelhou wat bitter seer maak. Of dit nou die blatante korrupsie van openbare instellings of die meer subtiele weerhouding of wanaanwending van kerkgeld is, dit is soos Wilhelm Jordaan sê, niks anders as sonde nie. ‘n Vergryp teen kinders en God.


Ek sal nou nie gaan wegkruip agter die onaantasbare posisie van “Die Here het vir my gesê” nie, maar dit is tog wel hoe ek die Evangelie vir ons tyd verstaan.

12 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page