Hoe nou gemaak? ‘n Onlangse navorsingsprojek toon aan dat kinders tot 30 keer elke uur op hulle selfone kyk. En dat 80% jongmense tussen 18-25 erken dat hulle verslaaf is aan hulle selfone.
Moet ons uitroep: “O wee!” Ek dink nie so nie. Slaan bietjie briek aan. Ek onthou laasjaar se bustoer na die wildtuin. Daar was ‘n paar senior lidmate wat ook nie hulle oë van hulle selfone kon weghou nie! Van hulle het hulle sensitiwiteit vir die bos prysgegee omdat dit wat op die selfoon gebeur dan so belangrik is!
En ek self? Ek ook! Ek is ‘n nuusmens, en dit is vir my wonderlik om die onmiddelikheid van nuus te ervaar, om sportuitslae te volg, praat nie eers van die whatsapp-groepe waarvan ek deel is nie. Ek sien ook baie mense vir wie hulle selfoon ‘n belangrike werksinstrument geword het. ‘n Onontbeerlike bate in kommunikasie.
Die waarheid is dat die meeste van ons skerm-slawe geword het. Die lewe waarin ons belangstel, speel op die skermpies in ons hand voor ons af. Ons familie, ons finansies, ons stokperdjies en belangstellings is nou alles op ‘n pragtige kleurskermpie in onse hande.
Ons moet wel oor die donkerkant van die skermpie dink. Ons moet weet dat ons soms gewoon ongeskik is deur ons selfoon heeltyd voor oë te hou. En, ons verloor gewoon oogkontak en waarnemingsvermoë. Ons sal almal moet probeer om ‘n balans te vind tussen selfoontyd en dit wat ek nou behoort te doen.
Comments