Daar is een toneeltjie uit die fliek Fiela se Kind, wat my altyd sal bybly. Wanneer Fiela Koemoetie angstig voor die deur van die landdrosgebou staan, weet sy, sy sal die ‘groot baas’ moet smeek vir haar kind.
In haar angs, voordat sy by die deur ingaan, uiter sy in haarself: “Seil Fiela, seil”. Gegewe die storie van die grootmaakkind wat sy so intens liefgehad het, het ek die karakter Fiela ongelooflik jammer gekry. Ek moet die minste wees wat ek kan wees. Miskien sien die landdros my verlies, my pyn, en my agting vir hom raak. Miskien, as ek voor hom seil, sal hy my jammer kry. Ek het niks om op te staan nie. Asseblief, my Grootbaas.
Nie net het Sharleen Surtie Richards in die rol byna die perfekte vertolking van Fiela gegee nie, die angstige seil-uitering sou prominent word as herinnering van ‘n tyd in ons geskiedenis. Surtee Richards se teenwoordigheid (presence) in die samelewing, ná die uitreik van die fliek Fiela se Kind, het mense in Suid-Afrika se ingesteldheid teenoor mekaar ten goede verander. Die invloed van die kunste word deur die algemene publiek onderskat. Dankie Sharleen!
Comments