“Wag op die Here, Israel,” lees ons in Psalm130. En in Psalm 131. Dis ’n tema wat ’n mens telkens in die Ou Testament raaklees. Op ’n manier sê dit vir ons iets van Advent, die seisoen in die aanloop tot Kersfees. Israel se verwagting dat God iets sal kom doen, het ’n verwagting geword dat God iemand sal stuur, ’n messias. En God het dit gedoen. Dit is wat ons met Kersfees vier: die geboorte van Jesus, die Christus, die Messias wat ons met God kom versoen.
En die goeie nuus is dat daar meer is: Jesus het ons ook geroep om Hom te volg, sodat ons ’n lewe saam met God sal geniet, ’n oorvloedige lewe, ’n lewe in die koninkryk van God. Maar hoe rym dit met die chaos wat ons om ons sien, in ’n land waar korrupsie hoogty vier, waar soveel dinge verkeerd loop? In ’n sin is ons weer waar die Joodse pelgrims was wat Psalm 130 en 131 gesing het. Ons wag op die Here. Ons wag op die Here wat vir ons ’n beter lewe beloof het - en vir ons kom wys het hoe om te leef om so ’n beter lewe moontlik te maak.
In die kerklike tradisie is daar vier waardes onderskei wat deel vorm van so ’n beter lewe: hoop, vrede, liefde en vreugde. Advent is die seisoen waartydens ons oor hierdie waardes kan nadink. Dis die seisoen om weer te besin oor wat ons verwag van God. Wat is dit wat God in hierdie wêreld, in ons omstandighede, nou, vir ons en deur ons wil doen? Dis ’n seisoen waartydens ons weer kan nadink oor wat dit beteken as ons bid: “Laat u koninkryk kom.”
Comments