Die oudioloog verduidelik mooi op die radio wat die maskers aan klein kinders se taalontwikkeling gedoen het. Hulle ouditiewe prosessering het skynbaar kwaai skade gely omdat die masker selfs die frekwensie van die onderwyser se stem verander het tot op ’n vlak waar talle woorde van die onderwyser verkeerd gehoor word. Om nie eers te praat van die afwesigheid van gesiguitdrukkings en ander nie-verbale uitdrukkings van kommunikasie nie. Terwyl sy met goeie argumente en navorsingsresultate die probleem verduidelik, besef ek dat ek nooit eers gedink het dat Covid ook daar sy kloue ingeslaan het nie.
Wat het dit alles aan ons gedoen? Omdat ons in ’n sekere sin in ’n oorlewingstryd gewikkel is, het ons nog nie goed en diep genoeg daaroor nagedink nie. Vanwaar ek in die breë kerk betrokke is, sien ’n mens reeds van die skade. Behalwe die talle gemeentes wat begin sukkel om kop bo water te hou, wonder ek of die kerk in die moeilike tyd waardeur ons gaan aan die werklike vrae van mense aandag gee. Of, nog belangriker, weet ons wat die werklike geloofsvrae van mense is? Byna soos in die gedig “Oh Christianity, Christianity” (Stevie Smith 1903–1971) waarin sy vra: “Oh Christianity, Christianity, Why do you not answer our difficulties?”
Is ons dalk besig om vrae te antwoord wat niemand meer vra nie? (volgens ’n siniese vriend van my is dit die beste definisie van ’n predikant – Iemand wat vrae antwoord wat niemand vra nie). Ek wonder wie sal kan help hiermee? Wat is die een vraag wat jy aan die adres van die kerk sou wou rig? Dalk was daar al pogings om jou vraag te beantwoord, maar dit het jou hoegenaamd nie gehelp nie. Haal vir ’n oomblik jou masker af en sê dit. Ons moet mekaar hieroor hoor. Jy het my e-pos en nommer.
Comments