Charlise het met ‘n swaard aangekom. Daar is seker ‘n vise-kanselier of twee wat ‘n sug van verligting geslaak het toe die aweregse boeremeisie van Benoni aangemeld het? Maar sy is laat. Die skerp pyle is ‘n geruime tyd al in Afrikaans se lyf. Boere-Afrikaanse rugbykapteins wat na wedstryde hygend op TV vertel van die match en die gameplan en defence en die coach, is soos om droë rys vir sout te gebruik. En die nuwe generasie Afrikaanse baby-sangers met hulle songs en shows is so onnadenkend doodmakend soos die Rottevanger van Rotterdam.
Dalk is Charlise reg? Ons 44-grappies drup trane. Die wêreld se mense verengels en Afrikaans is nie immuun nie. Soos Grieks eens die bekende wêreld se taal van die dag was, en later ook Latyn. Gelukkig dat humor ons dra, ‘n lag met ‘n traan.
Dit is glad nie vir my lekker nie. Ek gaan nooit op my gemak in Engels wees nie. Om nie eers te praat van vaardig nie. My moedertaal is wie ek is. Ek is nog besig om die vurigheid en wonderskoonheid van my eie taal te probeer begryp!
Of dalk is ek net onnosel, domastrant en steeks? Daar is van my vriende wat reguit vir my sê ek is. Dalk begryp ek nie die evolusie van taal en van die mens nie? Ek vat die beskuldiging as ‘n hou op die ken. Feit bly, die daaglikse wegrasper van my soetste taal, maak seer.
Ek bid saam met Sheila Cussons haar Gebed van die loot aan die wynstok vir my taal:
Solank as wat ‘n mens
sy gewaarwordinge in taal bly formuleer
Here, laat my taal leef
en dat U hom nooit van die liggaam
van Afrika sal amputeer nie –
en waar U moet terugsnoei, Heer,
laat ons u hand herken en rustig weet
U sal uit die vurige sap
wat U nou tot besinning kasty
iets wat helder en edel is eindelik distilleer.
Comentários