top of page
Search
Writer's pictureAnton Pienaar

Mense wat hulle lewe vir jou sou gee

Daar is baie meriete in dié beswaar. Die mensdom word op sleeptou geneem deur die markte. Al die dae - Vadersdag, Moedersdag, Valentynsdag - is geldmaakfoefies. Slim maatskappye gebruik net die dae om geld uit jou te kry. Hulle speel ’n emosionele spel met jou skuldgevoelens. Hulle druk die regte knoppies in jou brein. Hulle is geensins gepla oor jou pa of ma of jou geliefde nie.


Dit is waarskynlik so. Maar dalk slaan die krom stok tog op sommige plekke ’n reguit hou? Elke keer as dié dae op die kalender aanbreek, dan maak ons soort van voorraadopname. Hoe is dit met my waardering vir die mens aan wie ek my trou beloof het? Nie net wat in my kop daaroor aangaan nie, hoe tree ek op teenoor die mens wat ek gekies het om die mens van my liefde te wees?


Vadersdag- en Moedersdag het dalk groter uitdagings. Daar is baie ouers wat nie meer deel van hulle kinders se leefwêreld is nie. Kinders bou vroeg reeds hulle eie wêrelde. Dit is ook hoe dit hoort. Maar baie gaan bou hulle wêrelde in ander lande. In ander kulture. Dominee’s kom dikwels op pa’s en ma’s af wat eensaam is. Wat vir jou sê dit is vir hulle swaar dat hulle kinders so vêr is. Hulle verstaan al die redes en hulle is vreeslik dankbaar vir die elektroniese media waarmee hulle maklik kan kommunikeer. Maar ‘n selfoonskerm vervang nie aanraking en vashou nie. Dit vervang nie raaksien van lyftaal en waarneming van emosies nie. Elektroniese media is nie die hele ek nie.


Dalk help die krom stok van Vaders- en Moedersdag tog dat kinders daaroor na-dink. Niemand van ons het uit die lug geval nie. Ons kom êrens vandaan. Ons is nie daar deur ons eie toedoen nie. Ons is uit mense gebore. Mense wat dalk nie meer maklik kan beweeg nie. Mense wat hulle lewe vir jou sou gee. Mense wat jou meer liefhet as wat jy dalk besef. Mag baie pa’s en die ma’s vandag die waarderende liefde van hulle kinders ervaar!

8 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page