Die afgelope week het twee datums verbygeloop wat dekades terug vir die mense van Suid-Arika groot betekenis ingehou het. 31 Mei en 1 Junie. Die Sandrivierkonvensie van 31 Mei 1899 was ’n vrugtelose poging om konflik tussen die Boererepublieke (ZAR en die OVS) en die Britse Ryk te voorkom. Drie jaar later, 31 Mei 1902, met die ondertekening van die Vrede van Vereeniging in die Melrose Huis in Pretoria, het die Boererepublieke ophou bestaan. Bykans 60 jaar later, 31 Mei 1961, het die Unie van Suid-Afrika ‘n onafhanklike vrye land geword. Die gety het ingekom en uitgegaan.
Op 1 Junie was dit presies 250 jaar gelede dat Wolraadt Woltemade, ‘n 65 jarige melkboer, met sy perd Vonk, heldhaftig 14 drenkelinge van die skip De Jonge Thomas, uit die see by Tafelbaai gaan red het. Maak gebeurtenisse van die verlede nog saak, of is geskiedenis ‘n verheerlikte en leuenagtige ou dame (Guy de Maupassant) of net ’n groot stofhoop?
Natuurlik maak gebeure van die verlede saak! Wat in die verlede gebeur het, het die hede veroorsaak. Of ons van die verlede hou of nie, jy kan dit nie verander nie. Soos iemand dit sinies opgemerk het, selfs God kan nie die verlede verander nie. Die verlede bring helde na ons toe, soos Wolraadt Woltemade. En dit inspireer ons. Die verlede bring ook nadenke: “hoe sou dit gewees het as dit of dat nie gebeur het nie?” Wie het behoorlik perspektief op die geskiedenis wat ons vandag maak? Ons het nie genoeg insig om die huidige geslag se doen en late te beoordeel nie. Ons is arrogant as ons dink ons is die geslag wat die regte besluite maak.
Ons moet die geskiedenis met groter respek hanteer. Besluite wat mense maak, is dikwels die beste insig en oortuiging wat hulle op daardie oomblik het. Hy wat die verlede net verag, is stiksienig.
“Die toekoms is duister; maar ons sal die moed, die hoop, die vertroue op God nie prysgee nie.” Was die woorde van Generaal Smuts, op 30 Mei 2023.
Comments