‘n Ma vertel my nou die dag dat sy met sekerheid kan voorspel wat die eerste woorde uit haar tiener se mond gaan wees sodra beurtkrag aanbreek: ‘Ma, maak vir ons ‘n hotspot seblief?’ In ‘n tyd waar toegang tot die internet ‘n noodsaaklikheid is, en elektrisiteit daarby nie altyd gewaarborg is nie, is ‘n hotspot in baie huishoudings ‘n kommoditeit. In die donker tyd waarin ons onsself bevind roep God elkeen van ons om ‘n hotspot van Sy teenwoordigheid in hierdie wêreld te wees.
‘n Hotspot waar deur God se liefde, genade, nabyheid, versorging, en troos na mense toe kom. ‘n Hotspot kan so eenvoudig soos ‘n oproep of whattsapp wees. Óf miskien om ‘n bord kos of sakkie inkopies by iemand se hek af te laai. Ek wonder soms hoe sou ‘n sateliet-foto lyk wat al die Stellastraat hotspots, en die lig wat hulle bring in ons stad, ons land en regoor die wêreld, vasvang. Kan jy dit in jou geestesoog sien?
Baie dankie aan elkeen wat in die laaste paar weke op ‘n baie praktiese wyse hotspots was deur kospakke vir Danville gesinne óf vakansiebokse vir Jakaranda te borg. Ek glo met my hele hart dat daardie bokse, vol kos en skryfbehoeftes, God se teenwoordigheid in mense se lewens ‘n realiteit maak.
Comments