Regerings doen dit. Onlangs het Amerika se pres Biden dit gedoen, en sopas het pres Ramaphosa dit gedoen. Hoe gaan dit met ons land en waarheen is ons op pad? Is dit nie ook ‘n gepaste tyd om ‘n SONA (state of the ‘nation’) van die NG Kerk te maak nie? Hoe gaan dit met die NG Kerk, en waarheen is ons op pad?
Ek is nie bemagtig om die NG Kerk se SONA te doen nie. Ek is ook nie in die kerk se “parlementêre gange” om presies te weet wat aangaan nie. Hoewel ek krities is oor die kerk se strukture, is ek lief vir die NG Kerk en is sy wel en wee vir my baie belangrik. En volstruispolitiek bring mens nêrens. Daar is ‘n skaduwee wat oor die kerk hang. Die hoeveelheid lidmate van die NG Kerk het in die laaste drie dekades baie afgeneem. Op die boeke is ons so naby 700 000 lidmate, maar aktiewe lidmate waarskynlik nader aan 300 000. Meer as een derde van die huidige NG Gemeentes gaan waarskynlik oor tien jaar nie meer selfstandig kan bestaan nie. Daar is krities min persone wat hulle aanmeld by die kerk se teologiese fakulteite met die oog daarop om dominees te word.
Daar is tekens dat die kerk se son helder skyn. Al word die nominale getalle van die kerk kleiner, is dit duidelik dat die oorblywende deel van die kerk meer vermag as ooit te vore. Veral op plaaslike vlak. Gemeentes wat saamsmelt en herposisioneer is op heelwat plekke meer lewenskragtig as te vore. Dit wil ook lyk of gemeentes wat oopkop met die samelewing se moeilike vraagstukke werk, wat moeite met die teologie maak, en wat die klassieke omhels, beter vaar as gemeentes wat vasgeval het in ‘n vernouende konserwatisme. Vir my is die grootste teken van hoop, en die belangrikste SONA-merker van die NG Kerk, die kerk se geboue in die platteland. Al het die platteland grootskaalse ontvolking ervaar, hou die oorblywende lidmate hul kerkgeboue en aktiwiteite goed in stand. Dit beteken dat die kerk in mense se harte leef. Die kerk is nie dood nie. Inteendeel.
Comments