Die afgelope week skryf prof Frans Johan Pretorius baie mooi oor Generaal Christiaan de Wet. In sy rubriek in Beeld. Generaal de Wet is 3 Februarie vanjaar 100 jaar gelede oorlede.
Pretorius vertel hoe bekwame en uitsonderlike leier Generaal de Wet was. En dit onder baie moeilike omstandighede. Met min hulpbronne en teen ‘n oormag van Engelse soldate, het De Wet en sy verkennerskorps legendes geword.
Die jong Afrikaanse volk wat in die laaste 370 jaar in suider Afrika vorm gekry het, het wêreldwyd reputasie en respek gekry danksy leiers wat uitstaande opgetree het. Tydens die Anglo-boereoorlog was dit veral De Wet en Generaal Koos Delarey en sy vrou Nonnie.
‘n Mens kan nie anders as om te wonder of ons dan nie vandag ook sulke leiers het nie? En as daar is, waar is hulle? Hoekom is hulle stemme dan so stil? Of het dit te moeilik geraak om ‘n leier te wees? Met al die verskillende menings en invloede wat in ons tyd deur sosiale media ‘uitgestroom’ word, is dit nie so maklik om mense te kry om saam te staan nie. Om een ideaal na te volg nie.
In Suid-Afrika (en in die kerk!) is daar soveel individuele menings, dit is bykans (god’s) onmoontlik om die groter geheel met jou saam te neem. Ek dink ons moet simpatie hê met politici en moderators! Individualisme is die naam van ons kultuur!
Wat staan ons te doen? Wat ons nou nodig het is mense met integriteit, met eerlikheid, met planne, wat as groepe saamstaan en in ‘n gemeenskap betekenisvolle veranderinge te weeg kan bring. Om klein dorpe te laat funksioneer, om paaie rybaar te maak, om inrigtings te bedryf, om kerkgemeenskappe aan mekaar te hou en te laat funksioneer as ‘n bate vir die samelewing. Leierskap lê nou in die hande van groepe mense, gemeenskappe en spanne.
Comments