Die winter van 2022 gaan nie maklik wees nie. In enige winter stoei ‘n mens se gemoed om deur die koue te kom. Dit is gewoonlik eers as die eerste lenteblomme verskyn, en die reuk van die somerreën in ons neusgate is, dat die lus vir lewe weer daar is.
Die effek van die oorlog in Oekraïne het ‘n invloed op die brandstofprys en voedselpryse. Stygende inflasie laat baie van ons se kele toetrek. Daar is spanning op verskeie plekke in die wêreld waar vrede nerf-dun geword het.
Die covidgogga wat steeds ronddwaal en die duidelike impak wat aardverwarming veroorsaak, word orals gevoel. En dan slaan Eskom alhoe meer bollemakiesie, tot almal se groot frustrasie.Al die onweerswolke kan ‘n mens bedruk maak. Of dit kan jou méns maak. Dit is hoe lewe is. Lewe is soms die kuns om die vliegtuig deur die onweerswolke te kry. Om die slaggate te vermy. Om werklikhede in die oë te kyk, en met moed daarop te reageer. Die belangrikste is dat mense in ‘n tyd van spanning, mekaar sal ondersteun. Ons moenie mekaar die donker in-praat nie. Ons moet almal rieme dunner sny en op die uitkyk wees oor hoe ons mekaar kan help. Ons kan dit doen!
Comments