Hierdie naweek vind ‘n splinternuwe internasionale klavierkompetisie in die Afriforumteater plaas. Die MANSH-kompetisie. Dit is voorwaar wonderlike nuus vir liefhebbers van klaviermusiek, en dit sommer op ons voordeur!
Maar daar hang ‘n wolk oor die kompetisie. Die tjellis van Sarajevo het die pianis van Ukraine geword. Die Russiese pianiste is in die kompetisie, maar die klavierspelers van Ukraine nie. Want, Ukraine se klavierspelers is opgeroep om soldate te wees in die oorlog. ‘n Oorlog wat deur Rusland begin is. Wat ‘n onstellende en tragiese situasie!
My eerste ontsteltenis lê daarin dat iemand met die wonderlike talent van musiek, dalk in dié oorlog sy vingers of sy gehoor kan verloor. En dan verlore kan wees vir musiek. Die wonder van musiek wat mense aan mekaar bind. Musiek is die wêreldtaal. Musiek is ons hoop op harmonie.
My volgende vlak van ontsteltenis is dalk nog groter. Ek het geen begrip vir mense wat simpatie het met Vladimir Putin, en sy sogenaamde motiewe om ‘n oorlog teen Ukraine te voer nie. Daar is geen wenners in enige oorlog nie. Daar is net vernietiging. Families wat intense pyn ervaar weens dood, samelewings wat oor jare opgebou is en in ashope verander. Dit is gewoon verfoeilik om begrip te hê vir ‘n magsugtige en gewetenlose persoon, soos Vladimir Putin blyk te wees nie. Geen mens behoort die soort vernieling van lewe te veroorsaak nie.
My hart huil note vir die pianiste en die mense van Ukraine.
Comentarios