Die afgelope paar maande het baie rugbyliefhebbers in Frankryk gaan kuier. Op sosiale media sien jy foto’s van mense wat voor bekende landmerke, ook kerke, soos die Notre-Dame en die pragtige Basilique du Sacré-Cœur staan en glimlag. So 30 km buite Parys aan die Noord-Weste kant, is daar ook ‘n bekende kerk, die Notre-Dame-de-l’Assomption. Toe Vincent van Gogh lank terug voor hierdie kerk gestaan het, het hy egter nie geglimlag nie. Hy het nietemin die kerkgebou geskilder. Sy skildery wys ‘n pragtige plattelandse uitsig – ‘n ou Gotiese kerk teen die helder blou lug, omring deur sonnige groen weivelde en oranje huisdakke. Daar is egter iets ontstellend in hierdie skynbaar idilliese natuurskoon landskap.
Die mooi groen gras met blomme en die sandsteen pad wat vurk op die voorgrond, is helder verlig deur die son, maar die gebou bly in sy eie skaduwee en weerspieël ook geen lig nie. Die gekleurde vensters word geverf met ‘n dowwe donkerblou. Daar is geen deure sigbaar nie, geen hande op die horlosie nie. Ten spyte van al sy argitektoniese prag, lyk die gebou eerder koud, afstootlik en dood. Selfs ‘n eensame vroulike figuur wat op die sandsteen pad loop, loop verby asof dit nie bestaan nie. Hierdie vreemde koue gesaghebbende struktuur, vasgevang tussen die warm sonnige landskap en die dreigende wolke in die lug, blyk ‘n subtiele metafoor te wees wat iets van van Gogh se vroeë godsdienstige ervarings uitbeeld. Die skildery is een maand voor van Gogh se dood voltooi. Min weet dat van Gogh ‘n priester wou word, maar uiteindelik opgegee het op die Christendom. Van Gogh is uiteindelik begrawe in Auvers, maar die kerk het geweier om ‘n begrafnis vir hom te hou omdat hy vermoedelik selfdood gepleeg het. Die mense het van Gogh as vreemd en anders ervaar en daarom is hy van die kerk uitgesluit en het hy nie welkom gevoel nie. Vir hom was dit ‘n kerk sonder deure, sonder toegang, donker.
Ek kan ongelukkig nie skilder of teken nie, maar as ek ‘n skildery van Stellastraat moes teken na my paar maande se ervaring hier, sal ek gelukkig ‘n heel ander een kon skets. ‘n Gebou met oop deure, vriendelike gesigte, oop arms, baie lig, met ‘n groot helder bord op die hoek geplant: “Stellastraat is soos ‘n taxi, daar’s altyd plek vir nog iemand!”
Comments