Die tragiese gebeure van die Titan seevaartuig wat Donderdag in die donker dieptes van die Atlantiese oseaan vergaan het, het my onwillekeurig aan die verhaal van Jona en die vis laat dink. In die tye toe die Bybelgeskrifte opgeteken is, het baie mense geglo dat daar ’n seemonster in die donker dieptes van die see woon. Hy is genoem die Leviatan, en hy was God se teenstander. Wanneer Jona in die donker dieptes van die see beland, en daarna boonop nog in die ingewande van ’n vis – was hy in die ‘hande’ van God se teenstander. En dit is uit daardie donkerte wat God vir Jona red.
Elke jaar, op die middag van Jom Kippoer, die heiligste dag op die Joodse kalender, lees ortodokse Jode die verhaal van Jona. Vanjaar is dit 24 September, in die sewende maand volgens die Joodse kalender. En op die geleentheid leer Jode hulle kinders wat dit is om van God vervreemd te wees - en met die verhaal van Jona, hoe genade na hulle toe gekom het.
Die vyf persone wat weens die inploffing van hulle vaartuig dood is, is nie oorboord gegooi nie. Hulle het derduisende dollars betaal vir avontuur en verkenning. Ons kan hulle nie veroordeel nie, want hulle was maar soos ander pioniers wat vandag helde genoem word: Columbus, Vasco da Gama, Neil Amstrong en andere. Ons weet niks van die vyf persone se geloof of verstaan van die wêreld nie. Maar spreekwoordelik het hulle in dieselfde doodsdonkerte van Jona beland.
Ironies, aan die ander kant van die oseaan, verlede Woensdag – in die Middellandse see – het 79 vlugtelinge wat op ’n gehawende boot probeer het om ’n nuwe lewe in Griekeland te vind, verdrink. Net statistiek. Ons leef inderdaad in ’n vreemde wêreld.
Comments