Dit is nie almal wat weet dat die Olifantsrivier waarlangs ’n groep Stellastraters die naweek heerlik speel en kuier, sy ontstaan naby die hoëveldse dorp Bethal het nie. En nog minder dink ons daaraan dat dié rivier Laeveld toe kronkel. Eers deur die Loskopdam en Abel Erasmuspas, dan deur die Krugerwildtuin en uiteindelik gee hy sy laaste druppels aan die Mosambiekse see.
Terwyl die rivier se water verby ons vloei, klink die daaglikse nuusberigte in ons ore. Werk spaarsamig met water. Daar is nie genoeg water nie. Moenie jou tuin natspuit nie. Moenie ’n tuinslang gebruik nie. Die alarms oor water-tekorte word weekliks meer en meer. Dit is iets wat ons nie geken het nie. Water is tog so vanselfsprekend. Sonder water is lewe nie moontlik nie. Ons moet water hê.
Dit blyk al hoe meer dat ons nie ’n oorvloed water in Suid-Afrika het nie. Dat die bevolkingsgroei, verstedeliking en industriëe baie meer water gebruik as wat voorsien kan word. Dan is daar ook die probleem dat die infrastruktuur wat die water na die gebruikers toe moet herlei, nie behoorlik in stand gehou word nie.
Elke keer as ons ’n glas water in die hand neem, moet ons weet die volgende een is eintlik nie vanselfsprekend nie. Water moet ons bewus maak van die Oorsprong van lewe. Aan die Begin. Aan God, wat ook genoem word die Fontein van Lewe. Elke druppel water verdien ons respek en dankbaarheid.
Daar is 45 gesinne (179 mense) van Stellastraat wat die erfenisnaweek langs die Olifantsrivier gaan uitspan!
Comments