Ek het die voorreg gehad om in Novembermaand die AACC se 12de vergadering te Abuja by te woon. Die All African Conference of Churches, wat uit 210 lede-kerke van regoor Afrika bestaan, het ook by hierdie geleentheid hulle sestigste bestaansjaar gevier. Die tyd in Abuja was in baie opsigte uitdagend gewees - die weer was warm, die dae was lank en die kos eentonig, maar wanneer ek terugdink aan my tyd in Abuja dan is dit mense se verhale wat my sal bybly. Jongvroue se verhale van mensehandel en geforseerde prostitusie.
Verhale van diskriminasie teen vroue en persone met gestremdhede in die kerk, en gemeenskappe wat swaarkry as gevolg van klimaatsverandering. Behalwe vir mooi lappe en speserye, het ek met drie groot geskenke uit Abuja teruggekeer. ‘n Nuwe perspektief: Daar is baie goed verkeerd in en met ons land, maar ek besef daar is ook goed wat werk. Suid-Afrika het in baie opsigte al ‘n lang en goeie pad gestap. ‘n Dankbare hart: Ek is diep dankbaar om deel te wees van ‘n gemeente en groter kerkverband wat nie terugdeins om saam te dink, te worstel en te redeneer oor belangrike sake soos skrifbeskouing nie.
‘n Vaste oortuiging: Ek is meer as ooit daarvan oortuig dat ons as kerk geroep word om te werk vir geregtigheid en regverdigheid in ons gemeenskap en land. Baie dankie aan die Algemene Sinode en Stellastraat se kerkraad vir die geleentheid om nie net die vergadering by te woon nie, maar ook om vir nog vyf jaar Suid-Afrikaanse kerke op die organisasie se beheerraad te verteenwoordig.
Comments