More is dit 6 April. Op dié dag in 1652 het die Verenigde Oos Indiese Kompanie se skip, die Dromedaris, met Jan van Riebeeck as goewerneur, aan die Kaap voet aan wal gesit. Op die skip was 82 mans en 8 vrouens. Hulle opdrag was bloot om ’n verversingspos te skep vir al die verbygaande skepe.
Maar, dit het nie daar gebly nie. Daar het iets op daardie dag ontkiem. Die saad van kolonialisme is gelê, want die stryd tussen die Hollanders en die Engelse was op hande. Sedertdien het die een groep na die ander voet aan wal kom sit: Duitsers en Franse en Engelse en Switsers en Kanadese en Russe en Italianers en Maleisiers en Indiërs (en nog). En soos Israel van ouds het hulle tussen die imheemse stamme van Suider-Afrika kom bly – tussen die Xhoza’s en Zulu’s en Sotho’s en Tswana’s en Phedi’s en Khoi’s en San’s (en nog). En almal het een nasie geword. Nie sonder stryd en nogmaals stryd nie! En die stryd duur voort!
Is ek spyt dat ek hier beland het? Dat ek bestem is om ’n Afrikaan te wees. Nie vir een enkele oomblik nie! Al roep my gene van elf generasies vroeër na ons Europese hinterland, is ek in murg en been ’n lojale kind van Afrika. “Ik wil niet loopen, k’ben een Africaander” soos die 17-jarige Hendrik Biebouw in 1707 sou gesê het.
Comments