Wat simboliseer die Adventskers?

Die vier weke voor Kersdag staan bekend as advent. Die adventseisoen word deur Christene wêreldwyd gebruik om hulle voor te berei om die koms van Christus op Kersdag te vier.

Tydens Advent dink Christene aan die drie ‘komste’ van Christus. Die eerste is sy koms as mens, die tweede is sy koms in die hart van elke mens, en die derde is sy weer-koms.
Een van die algemeenste simbole in die Kersseisoen is die adventskrans. Dit is ‘n sirkelvormige krans waarbinne vyf kerse geplaas word; vier op die sirkel en een in die middel. Drie van die kerse op die sirkel is blou terwyl die vierde een ligroos is. Die middelste kers is wit.

Die kerse word agtereenvolgens op die vier Adventsondae aangesteek sodat al vier kerse op die sirkel op die vierde Adventsondag brand. Die ligroos kers word op die derde Adventsondag aangesteek, en die wit kers, die Christuskers, op Kersdag. Die sirkel van die krans simboliseer God se ewigdurende liefde en bestaan. Die lig van die kerse dui op die lig van God wat in die wêreld kom. Die vier buitenste kerse verteenwoordig die vier weke van afwagting. Die eerste kers simboliseer hoop, die tweede vrede, die derde vreugde en die vierde liefde.

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.