Soos ek dit sien – Oor God en materie

Moenie so materialisties wees nie.”  Dis ‘n boodskap wat ons gereeld as Christene hoor en preek.  Ons bedoel natuurlik daarmee dat ons nie behep moet wees met besittings en ons vertroue moet plaas op aardse dinge nie.  Maar dalk is dit goed om bietjie die materialisme af te stof – in lig van die heersende verbruikerskultuur is ‘n gesonde materialisme dalk net wat ons nodig het!  Die probleem met die verbruikerskultuur is dat dit nie materialisties genóég is nie.  Dit vervlak mense se verhouding met materiële dinge en maak dit vlietend en kortstondig.  Dit is dus nie soseer dat mense hul vertroue in aardse dinge plaas nie, maar dat hulle voortdurend losgemaak word daarvan, sodat hulle nuwe dinge kan begeer en kry.  Ou besittings moet plek maak vir nuwe besittings, vergane begeertes met nuwe begeertes.  “As ons groter waarde geheg het aan die dinge wat materieel is, sou ons nie so daarmee gemors het nie”, skryf Ernst Conradie onlangs in ‘n artikel.

Die geskiedenis wys dat die Christelike geloof in dieselfde slaggat getrap het deur die siel belangriker as die liggaam te beskou, die hemel belangriker as die aarde geag het en die kerk belangriker as die wêreld aangeslaan het.  Dis hartseer, want die Christelike geloof lê juis, meer as omtrent enige ander godsdiens, klem op dinge wat materieel is.  Die skeppingsverhaal vertel immers dat God, nadat alles geskep is, na die skepping kyk en sê: “Dit is goed”.

Wat is gesonde materialisme?  Vir kinders van God beteken dit om opnuut te leef met die bewustheid dat God teenwoordig is in die dinge waaraan ons kan vat en voel en ruik en sien en gebruik.  Hopelik laat dit ons nadink oor die manier waarop ons gebruik, en weggooi, en herwin.  En koop.  En vervang.  En eenkant laat lê.  Mag ons materiële Christene wees wat God raaksien in alles om ons, en daarom God se skepping met waar digheid hanteer.

 

 

–  Fouché de Wet

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
This entry was posted in Soos ek dit sien. Bookmark the permalink.