Soos ek dit sien – ‘n Kwynende kerk?

Die afgelope week was vier NG gemeentes van die ou ooste van Pretoria bymekaar om hulle wel en wee met mekaar te deel. Stellastraat was een van die kwartet. Die ander was Lynnwood, Universiteitsoord en die Engelsprekende NG Kerk in Pretoria, naamlik Andrew Murray.

Vir my was die byeenkoms oor die drie aande, bekend as ‘n Ringsitting, maar min of meer soos elke jaar s’n. Elke gemeente vertel ‘n bietjie van sy blink gedagtes en doen en late, en murmureer oor aspekte wat nie so goed loop nie. Al vier gemeentes het omtrent dieselfde soort openbarings gemaak. Opgewonde oor nuwe venote. Bekommerd oor minder mense.

Daar was een saak wat my hartklop op gejaag het. Die NG kerk het die afgelope amper 200 jaar ‘n reputasie opgebou nie net as ‘n vreeslose kerk nie, maar as ‘n doen-kerk. Vreesloos omdat ons nie bang is om standpunte in te neem nie, of ons dit nou omstrede is of nie. ‘n Doen-kerk omdat die NG Kerk sedert 1824 saam met die Suid-Afrikaanse samelewing gegroei het en ‘n beduidende rol gespeel het in dit wat in die land tot stand gekom het.

Die NG kerk het deur die jare skole se hand vasgehou en die Christelike karakter daar help bou. Die NG Kerk het grootse sendingaksies in veral Suider-Afrika aangepak. Die NG Kerk het 120 ouetehuise en 22 kinderhuise in Suid-Afrika ontwikkel. In armoedeverligting en welsyn het die NG Kerk die grootste nie-regeringsorganisasie geword. En deur sy Christelike Maatskaplike Rade en Maatskaplike werkers die hoogste agting afgedwing.

Die Christelike Maatskaplike Raad is aan die kwyn. Waar die kerk en die staat hulle altyd befonds het, moet die CMR nou vir 62% van hulle begroting fondsinsamelings doen. Teen dié tempo gaan die amptelike barmhartigheidsarm van die kerk binnekort heeltemaal verlam wees. Een van die redes is dat gemeentes net nie meer genoeg geld het om aan die CMR te gee nie. En gemeentes, met die uitsondering van enkele Makrogemeentes, kan nie die werk doen wat die CMR doen nie.

Eintlik is dit die verhaal van ‘n kwynende kerk. Wat hy opgerig het, kan hy nie meer in stand hou nie. Orals hoor jy van eiendom van die kerk wat verkoop moet word. Gemeentes wat nie meer kan bestaan en moet amalgameer. Kerklike poste word verminder. En die tragiese, die mense wat die kerk die meeste nodig het, die armes en hulpeloses, is die eerste verloorders.

Dalk kan ons tog iets daaraan doen? Dalk is daar ‘n omdraaistrategie? Ek dink daar is genoeg mense en welwillendheid onder lidmate van die NG Kerk om die kwyn te stop. Myns in siens sal dit net kan gebeur as lidmate behoorlik ingelig is en deel voel van die kerk se prosesse. (Ek wil my verstout deur te sê dat baie min lidmate weet eers dat die CMR die NG Kerk se welsynsarm is!) Die einde van ‘n sinodebestuurde kerk waarin verkose mense ‘daarbo’ besluite neem en die res maar verlief moet  neem of weet nie eers wat aangaan nie, moet gouer aanbreek. Die kerk behoort aan elkeen van sy lidmate en elkeen behoort ingelig te wees en moet die geleentheid hê om aktief saam te praat.

Die Suid-Afrikaanse samelewing het verander. Die NG Kerk sal nuwe maniere moet soek om homself as kerk en as betekenisvolle agent in die samelewing te vestig.

Anton Pienaar

 

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.