Skaapkrale vir jongmense

Jeuggroepe is die plek waar jongmense met hulle eie portuurgroepe oor die Here kan gesels.  Dit is in hierdie groepe waar ons wil hê dat die verhoudings so heg moet wees dat hulle nie skaam is om met mekaar te deel oor hoe hulle die Here beleef nie.  So het die droom van “skaapkrale” by ons ontstaan.  Die “bouplanne” vir hierdie skaapkrale het ons in Joh 10:1-11 gekry.  Die skaapkrale het ’n Deur en ’n Herder waarvan Jesus beide is.  Hy is die een wat aan jongmense geloofsveiligheid bied (Hy is die Deur) maar ook bring Jesus die avontuur om in die veld na kos te soek (Hy is die Herder).  Die skape (jongmense) luister na die Herder se stem en volg nie ’n vreemdeling nie.  Die Herder lê sy lewe vir die skape af en daarom is die jongmense lief vir die Herder en vertrou hulle Hom met hulle lewe.

Wat is dan die rol van die jeuggroepleier?  Die groepleier moet die skaapkraal bou.  Die groepleier moet toesien dat die vier hoekpale stewig ingeslaan is nl. Kerklike tradisie (Gereformeerd waar genade voorop staan); Gemeente identiteit (Vry, Lig en Dien); Kerklike jaar (van advent tot in koninkrykstyd) en Eie konteks van jongmens.  Hierdie vier hoekpale bepaal die temas wat in die jeuggroepe en in die eredienste (2de diens en aanddiens) bespreek word.  Die hoekpale word stewig aan mekaar verbind met vier drade – ons band met God, met sy Woord, met mekaar en die wêreld.  Daar is niks met die “bloudruk” van hierdie skaapkrale verkeerd nie maar hoekom werk dit nie?

Die jongmense is te min in die skaapkraal!!! Moenie skrik nie – ons wil nie hê dat die jongmense nog ekstra dae kerk-toe kom nie.  Ons droom is dat die ouerhuis ook ’n skaapkraal sal wees.  Mag dit so wees dat jongmense op Sondae eintlik net van skaapkrale wissel (van ouerhuis tot erediens tot jeuggroepe).  Hierdie is ons as Diensgroep Toerusting en kerkraad se droom vir geloofsvorming in Stellastraat.  Wat dink jy van hierdie droom?  Is dit haalbaar en werkbaar?  Het jy enige wenke of voorstelle?  Praat asseblief met ons.

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
This entry was posted in Toerusting. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>