Rooi is nie goedkoop nie

Granate in Jerusalem is volop.  En hulle is bloedrooi en baie lekker.  “Daar is 613 pitte in ‘n granaat, net soveel as die wette wat die Jode in Jesus se tyd moes onderhou” sê iemand vir my, “op ‘n vorige toer het die gids dit vir ons vertel”. Bygeloof bloei ook in Jerusalem.

‘n Reis deur die godstad is reis deur rooi.  Ek kon my verdrink aan die heerlike bloedrooi granaatsappe.  Orals te kry in goedkoop plastiekglasies. Dit is nie al rooi wat in Jerusalem is nie.  Die rooi van bloed is die stad se onderlaag.  Die kleur van sy vel.

Die mens se ewige stryd om te heers, is ‘n tafereël in Jerusalem.  Jy voel dit aan.  Die adamante, die wrang, die bloed gaan-weer-vloei is teenwoordig in die nou gangetjies met sy malende mense.  Al is jy ‘n toeris, die onheilspellende is vreemd aanvoelbaar. Die jong Palestyn pers die granaatsap sonder emosie en opkyk uit op sy granaatpers.  Hy doen dit vinnig en byna geweldadig.

Op die plein van Antonius, diep onder die vasberadenes en bygelowiges en granaatperse, verbeel ek my die bloeddruppels van Jesus nadat hy ‘n doringkroon gekry het.  En ek verbeel my Abraham wat hoor God vra sy seun se bloed.  En vir Dawid wat die Jebusiete se bloed en grond eis om ‘n tempel vir sy God te bou.  Die stilte op die ou Romeise vloer is misleidend, want volgens die eerste eeuse geskiedskrywer Josefus kon jy geen erger bloedverspilling gekry het as in tyd toe die tweede Joodse tempel en sy mense in 70nC vernietig is nie. Granaatsap is nie goedkoop nie.  Nie vir toeskouers nie.  Die Palestyn prop die dollars in sy geldlaai en stap vinnig weg.

Dis ou bloed en nuwe bloed, daar waar ons loop.  In die Yad Vashem Holocaust-museum is daar om elke draai ‘n gedempte treur oor die Joodse bloed binne die mure van Dachau en Auschwitz.  Dis pynlik om te hoor en te sien.  Nie vêr daarvandaan word ‘n  nuwe muur gebou wat Oos-Jerusalem probeer weghou – om minder bloed te ervaar sê hulle.  Granate groei in Oos- en Wes-Jerusalem.  Rooi granate.  Die woede kook.  Die vasberadenheid kook.  Ek sluk die granaatsap met gulsige teue.  Dis lekker.  Dalk hou die wêreld van bloed.

Ironies.  Een nag, volgens oorlewering, het engele in dié landstreek kom sing oor vrede wat na die wêreld gekom het toe ‘n kind gebore is.  Die kind, wat dalk ook rooi granaatsap gedrink het, het uiteindelik sy bloed ook vir Jerusalem gegee.  Jerusalem is rooi, van granaatskap en bloed.  Rooi is nie goedkoop nie.

–  Anton Pienaar

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
This entry was posted in Soos ek dit sien. Bookmark the permalink.