post

Stellastraat Blitsnuus 15 Augustus 2019

Anton Pienaar
2019-08-19 09:37:00


Goeiedag,

Daar kom ‘n flukse dogtertjie!
Dis nog net 11 dae voor die flukse dogtertjie (Amelie beteken ‘harde werker’) ons wêreld betree! Fay gaan eerskomende Sondag haar laaste eredienste vir die jaar lei voordat sy op 26 Augustus ‘n afspraak met moederskap het. Mag die volgende paar dae vir Peet en Fay een van lekker afwagting en ‘n belewenis van goedheid wees!

* Kliek op die teks om die volle artikel te lees.


Sondag se eredienste

Die 08:30 erediens word deur Fay gelei uit Lukas 11:25-37. Die verhaal van die Barmhartige Samaritaan is goed bekend, maar hoe word dié opdrag van Jesus in ons tyd prakties moontlik? Die 10:00 erediens word deur Tienie gelei uit die fassinerende boek Jona. Die tema van dié erediens en die jeuggroepe is Vrae wat pla. Fay het opdrag van haar kollegas gekry dat sy die tema van die 08:30 erediens in die 18:00 erediens moet herhaal. Of andersom.

Willem lei die Adoramusdiens om tien voor ses vir sesuur. Die tema: Die Here wil Hom in ons verlustig (Jesaja 5:1-7). Die Here spaar geen moeite om ons mooi en vrugbaar te maak nie. Israel het Hom teleurgestel, maar deur Christus het ons die versekering dat die Heilige Gees nie sal ophou met ons nie. Wat 'n vreugde!

Genesis 1-11 is so betekenisvol!

Sondagaand 19:00 is dit die volgende aanbieding in ons Soekligreeks oor die interessante ontstaan en betekenis van Genesis 1-11. James is die aanbieder van die reeks.

Die psigiater Jung se kyk na die boek Job

Die Switserse sielkundige Gustav Carl Jung is bekend daarvoor dat hy verskillende belangstellingsvelde gehad het, onder andere godsdiens. Hy het veral bekend geword vir sy oortuiging dat die onderbewuste van die mens 'n groot rol speel in sy algemene gedrag. Jung het 'n hele analise gemaak van die karakters in die boek Job. Woensdag 09:00 in die konsistorie sluit ons die leesreeks oor Job af met 'n gesprek oor Jung se verstaan van die boek.

Dan Kriek kom praat oor landbougrond en onteiening sonder vergoeding - 22 Augustus

Een van die warmste onderwerpe tans in Suid-Afrika is onteiening sonder vergoeding. Veral met betrekking tot landbougrond. Dié idee maak sommige mense kwaad, maak sommige mense moedeloos, maak ander mense opgewonde, laat die filosowe onder ons redeneer, en die kerk lê ook af en toe 'n eier oor die saak.

Een van die persone wat die naaste aan die besluitnemers oor die saak is, is Dan Kriek, president van AgriSA. Wat gaan op die ou end gebeur? Is die deur op 'n skrefie oop, of is hy eintlik bot toe? Volgende Donderdag 19:00 in die binnehof kom Dan sy insig en oortuiginge met ons deel.

Kunsteaand - 28 Augustus

Woensdagaand 28 Augustus 19:00 gaan die kunste blom in Stellastraat. En die gaan gebeur in die binnehof. Francois Wessels kom die aand lei. Francois is 'n lidmaat van die NG gemeente Waterkloof. Hy is ook 'n pastorale berader en 'n beeldhouer.

Tydens die geleentheid gaan hy nie net oor sy eie kuns praat nie. Verskeie Stellastraters wat ook kunstenaars is, gaan saam deelneem. Neels Jackson (fotografie), Johan Wannenburg (poësie), Maricus le Grange (musiek), Amora Nel en Tharina Odendaal (skilderkuns) gaan ook hulle bydraes maak.

Die geleentheid is 'n bottel- en bordaand. Elkeen bring sy kos en drinkgoed en ons kuier lekker saam!

Plus Een is vir die onbekende reisiger

Dalk gebeur dit by julle ook so. Na Sondag se lekker maaltyd sien jy daar is nog 'n hele maaltyd vir iemand op die tafel. Dit is julle gesin plus nog een. Projek Plus Een vra dat jy daardie bord kos na die kerk sal bring sodat ons vir persone wat met honger aanklop by die kerk kan gee. Jy kan gerus by die kerk 'n melamienbord neem as jy daarmee wil help.

Huis Piek vra na 'n mens se gewilligheid

Is daar dalk iemand wat namens Stellastraat 'n handjie wil by-sit by Huis Piek? Huis Piek is 'n tehuis vir ouer mense in Melkstraat, neffens Waterkloofgemeente se kerkgebou. Dié inrigting is een van sewe ouetehuise in die ou Noord-Transvaal wat aan die NG Kerk behoort. Stellastraat het altyd iemand wat namens ons gemeente net 'n oor op die grond het daar, wat help met die jaarlikse tee vir die inwoners. Miskien lê dit op jou hart om vir 'n jaar of wat die dienswerk te doen? As jy meer wil weet skakel vir Fay (083 478 0854) of Neels (082 469 9704).

Hulp aan die karwagte

Dit is absoluut wonderlik dat Stellastraat se mense se harte en hande oop is vir die persone wat Sondae ons karre oppas! Dankie dat u onthou om 'n fooitjie te gee. Tog wil ons 'n vriendelike versoek rig. Ons moet die hulp koördineer. Vanuit die kerk het ons alreeds baie gehelp, maar ons het agtergekom dat daar op 'n manier vele vorme van opportunisme plaasvind. Dalk ook bietjie oneerlikheid. Ons wil regtig help, maar nie verleë wees nie. As jy onseker is oor die saak, praat asseblief met James (082 852 7947).

Ongesteld

Quintis Pelser van Chappiesstraat 330A, Lynnwood word tuis versorg nadat hy weer siek geword het en in die hospitaal beland het.

Johan Lamprechts, vroeër van Brooksstraat, is ernstig siek. Hy woon nou in Krugersdorp.

Meegevoel

Ons meegevoel aan die gesin van Anton van Tonder wat onlangs skielik oorlede is. 'n Gedenkdiens vir hom word Vrydag 11:00 in Stellastraat se kerkgebou gehou.

Nuwe lidmate

Baie welkom aan die volgende nuwe lidmate - SM en Lehandré van der Merwe van 19 Fuschia Gardens, 11 Grant Close, Eldoraigne.

Charl, Louise, Louné en Maxine Basson van Crescent straat 21, Waterkloofrif.

Stellastraatgroete


Scroll to top