post

Meer as een kalender?

James Kirkpatrick
2019-04-08 16:20:00

Hierdie tyd van die jaar praat ons baie oor die Kerkjaar. Goeie Vrydag en Paassondag lê net om die draai. Aan die een kant is daar die kerkjaar wat hom min steur aan die gewone jaar. Die afgelope klompie jare praat dominees baie daaroor en doen ook moeite daarmee. Party volg selfs ‘n Leesrooster wat spesifieke tekste uit die Bybel gee vir die verskillende tye van die jaar. In die kerkjaar gee die Advent (kersfees), Lydenstyd en Pinkstertyd die pas aan. Hierdie jaar begin vier weke voor Kersfees en nie op 1 Januarie nie.


Sonder twyfel het ons geleer om baie meer van die kerklike jaar te maak as in die verlede. Dit was 'n goeie skuif. Ons gaan nou weer oor die paasnaweek ervaar hoe ons gegroei het in ons waardering vir die ritme van die kerkjaar. Paasnaweek is beslis nie meer net nog 'n langnaweek nie.

Aan die een kant is daar die ritme van die gewone kalender wat met sy skoolvakansies en vakansiedae die gang van ons lewe bepaal. Ons weet ook goed wanneer dit somer, winter, lente of herfs is. Die 365 dae met sy skakering in seisoene gee struktuur aan ons lewens en ons val daarby in. Dit is op hierdie kalender wat verjaarsdae en huweliksherdenkings aangeteken word.

Terwyl ek baie dankbaar is vir die wins wat die klem op 'n kerkjaar vir ons gebring het, laat dit my tog soms wonder of ons nie onbedoeld iets kommunikeer dat ons eintlik in twee wêrelde leef nie. 'n Kerkwêreld en 'n wêreldse wêreld. En met tye dink ek ons het oorboord gegaan met al ons pogings om iets van die kerkjaar te maak. Dit is asof ons soek na een of ander parallelle wêreld waarheen ons van die harde werklikheid kan ontvlug.

Uiteindelik sal ons beter doen deur net aan die hand van een kalender te leef. Laat ek dit met 'n beeld probeer verduidelik. Aan die begin van die jaar stel ons vir almal die kerkkalender elektronies in Outlook beskikbaar. Dit word dan moontlik om jou ander kalender met sy direksievergaderings, musiekuitvoerings, wedlope, vakansies en verjaarsdae te merge met die kerkkalender. Doen dit asseblief! Want dan is die kerk nie 'n ander wêreld as die wêreld waarin ek elke dag my geld moet verdien nie. As ek Jesus reg verstaan, wou Hy hê ons moet merge. Net een kalender vir net een lewe in een wêreld.

Om twee kalenders in Outlook te merge is nie maklik nie. Vir lank het ek twee kalenders langs mekaar op die rekenaar in stand gehou. My eie dinge en die kerk se dinge. Ek het nie mooi geweet hoe om dit een te maak nie. Maar nou dat dit gedoen is, werk dit baie beter. Jesus wil nie 'n Kerkjaar hê waarmee ons Hom vereer nie. Hy vra van ons om ons lewens te merge en voortdurend te soek na die Koninkryk van God. In alles.


Scroll to top