Pinkster was deel van my grootword

Ek het opgegroei in die NG Kerk se Pinksterbidure. Toe ek ‘n kind was het ons gesin elke jaar die Pinksterbidure van ons gemeente bygewoon. Die hele dorp het dit gedoen. Die koshuiskinders, die ou mense van die dorp, almal was daar.

Dit was voor mense knus voor hulle televisiestelle na hulle sepiestories gekyk het en begin sê het hulle gaan nie meer in die aand uit nie. Dit was voor misdaad ons in ons huise toe-gestaal het. Dit was voor kinders se besige skoolprogramme ouers pap laat neerval het wanneer hulle saans by die huis kom. Dit was voor die tyd toe beide ouers professionele beroepe gehad het en dikwels laat saans eers tuiskom. Dit was voor die tyd van internet en ‘n magdom van kennis en keuses wat beskikbaar was.

Ons het in die sestigs en sewentigs ‘n eenvoudige lewe gelei. Bure het oor die draad met mekaar staan en kuier en praat oor die vorige aand se Pinkster. Kinders het met hulle fietse skooltoe gery. Soms het ons skemertyd, wanneer al die pa’s reeds van die werk af gekom het, in die straat voor die huis gespeel.

Ek onthou dat Oom Willie Marais een jaar in Ventersdorp, waar ek op laerskool was, die Pinksterbidure kom lei het. Ek dink omtrent tien aande na mekaar! Sy storie oor Saggeus wat genade en liefde by Jesus gevind het, het diep in my kom sit. Dit was een van die vormingsoomblikke in my lewe. Ons het die eenvoudige en sentimentele Hallelujakoortjies gesing, en hoewel sommige woorde daarvan my vandag bietjie hinder, het ek ‘n baie sagte plek vir dié liedere.

Nou kom kinders nie meer Pinkster toe nie. Enkeles wel. Ons wurg om vyf geleenthede deur te sien. Mense is besig. Dit vat baie van die dominees. Selfs ouer mense het goeie redes waarom dit nie vir hulle moontlik is om die dienste by te woon nie. Kan vandag se mense, wat met skermpies voor hulle leef, hulle nog steeds so kragtig verbeel dat hulle sien hoe die liefdevolle Jesus met Saggeus werk?

Dinge het verander sedert die Pinksterbidure in die 1850’s in die Boland ontstaan het. Daar word vertel dat die destydse Pinksterbidure ‘n ongekende herlewing van die kerk en geloof tot gevolg gehad het. Die beweging van Pinkster het ‘n stukrag aan die jong NG Kerk gegee wat besluit het om saam met die trekboere noorde toe te kom. Dis waarlik ‘n mooi storie in ons geskiedenis. Those were the days.

  • Anton Pienaar
  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.