Mark Twain se boek ‘The Prince and the Pauper’ vertel die ou klassieke verhaaltjie van ’n prins en ’n bedelaar wat (verstommend baie!) dieselfde lyk en wat dan, na ’n onwaarskynlike ontmoeting, klere ruil omdat beide begerig is om die ander se wêreld te ervaar. Die vryheid van die arm seun klink vir die prins so onweerstaanbaar dat hy sonder om twee keer te dink met die bedelaartjie se flardes aan sy lyf by die paleishek uithardloop. Die moeilikheid kom natuurlik in wanneer hulle wil terugruil, maar niemand hulle glo nie. In die paleis word die “prins” met groot verdriet mal verklaar, terwyl die regte prins buite die hekke van die paleis uitgelag word wanneer hy weer wil inkom.
Die twee seuns se wêrelde het skielik op hul koppe gedraai. Die een verdwaal tussen weelde, onbekende formaliteite en moeilike besluite. Die ander een is vasgevang in die wêreld van die magloses. Wanneer die ou koning sterf, word die bedelaar plegtig ingewy as koning, terwyl die jong nuwe koning steeds buite die veilige paleis is. Sy aanspraak op die koningskap het dan ook geen betekenis daar nie. Sy verflenterde klere het van hom ’n buitestaander gemaak. Waar hy hom nou bevind tussen diewe, bedelaars en plaaswerkers, leer hy die vernedering ken van honger, koue en onreg.
Dis eers na bladsye se ervarings in ’n ongenaakbare wêreld, wat die koning weer sy regmatige plek op die troon inneem en dan is hy nie meer dieselfde nie. Die mooi van die verhaal is egter dat die jong koning se heerskappy heelwat anders lyk as dié van sy gewetenlose pa. Sy wêreld het geskuif, sy mond praat nou anders.
Katongole en Rice se boek ‘Reconciling all things’ praat van die nodigheid om jou lyf te skuif na plekke van seer. Want dis eers by die massagraf in Kigali, Ruanda wat onverdraagsaamheid ons stom laat. Dis eers in die apartheidsmuseum wat die vloek van verdeeldheid ons harte ruk. En dis eers as ons lank stilgestaan het by die selle van politieke gevangenes in Johannesburg, wat onreg ’n belydenis uit ons monde laat ontsnap.
Dis tyd om tot stilstand te kom. Dis tyd om die afstand tussen ons en onreg kleiner te maak. Dis tyd om ons onskuld af te leer.
Piet Naude het in ’n toespraak vir die Reformed Church in America gesê dat belydenis ’n gawe en ’n wonderwerk is. Dit gebeur omdat die Gees soos die wind is: jy hoor die geluid, maar jy weet nie waarheen dit waai nie. Hy haal dan Karl Barth aan wat geleer het dat ons nie bely omdat ons dink dis ’n goeie ding om te bely nie. Ons bely, want ons het geen ander opsie nie. Ons bely, want God het ons monde aangeraak en ons roep uit: Credo! (Ek glo).
Hoe kan ons mekaar help om belydenis deel te maak van ons lewens? Miskien deur ons lywe te skuif na plekke
van verdeeldheid, onmin en onreg. Want dis eers daar waar ons dubbel vou onder die besef van die verskeurdheid van die wêreld, dat die woorde van ’n Belharbelydenis ook ons woorde word, dat God ons monde aanraak en ons uitroep: Credo!
- Marina de Wet