Omgewingsondag: “Skoenmaker, hou jou by jou lees!”

Tydens die 4e eeu voor Christus, tydens die regering van Aleksander die Grote, het Apelles, die beroemde skilder geleef. Apelles het graag sy werke voor sy winkel uitgestal en dan naby weggekruip om te hoor wat verbygangers daaroor te sê gehad het.

Op ‘n dag het ‘n skoenmaker kommentaar gelewer en die foute van ‘n sandaal in die skildery aan sy vriend uitgewys.
Apelles het daardie aand die veranderinge aangebring en die skildery weer met trots uitgestal. Toe die skoenmaker egter die volgende oggend die veranderinge opmerk, het hy weer iets te sê gehad oor hoe Apelles die man se been geskilder het! Apelles het dadelik uit sy skuilplek gekom en gesê: “Skoenmaker, hou jou by jou lees!”
Wanneer die kerk oor die omgewing begin praat, is daar altyd mense wat daaroor frons. Is dit die kerk se werk? Moet die kerk hom nie by sy “lees” hou nie? In die NG Kerk is ons oortuig daarvan dat die ekologie en die teologie met mekaar te make het. Dit was nie altyd so nie.

Dit sou dertig jaar gelede in Suid-Afrika eienaardig gewees het as iemand van die kerk die ekologie as teologiese tema op die tafel sit, hoewel dit toe alreeds vir die kerke in Europa vanselfsprekend was. By ons het die diskussie tussen biologie en teologie tot die evolusietema beperk gebly. Gelukkig het ons van hierdie eensydige lees van die Bybel losgekom en verstaan Christene vandag dat hulle verantwoordelik is vir die versorging van God se aarde. Met omgewingsondag prober ons in Stellastraat mekaar sensitief maak en hou vir hierdie aspek van ons geloof. Wanneer ons ons hou by ons lees (Bybel) kan ons nie anders as om dit te sien as deel van die uitleef van ons geloofsoortuiginge nie. Lente is in die lug. Geniet die goeie skepping van God!

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Algemeen | Comments Off on Omgewingsondag: “Skoenmaker, hou jou by jou lees!”

Daar word gewoel aan die kapel!

‘n Klompie jare gelede het die kerkraad ‘n kapitale verbeteringsprogram goedgekeur. Daarvolgens sou ons al Stellastraat se geriewe verbeter, soos ons oor die nodige fondse beskik. Die laaste een van die projekte is nou aangepak. Die Kapel.

Die idee is dat die kapel meer soos ‘n regte kapel kan funksioneer. Dit moet meer wees as net nog ‘n lokaal. Enige-een moet daar kan kom sit en ‘n kers aansteek en rus. Ons is nou op daardie pad. Ons vermoed so 6-8 weke, dan is ons in ons ‘nuwe’ kapel!

 

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Algemeen | Comments Off on Daar word gewoel aan die kapel!

Fouche groet Stellastraat na 15 jaar

Vyftien jaar gelede het Fouché de Wet as ‘n jong student in sy laat twintigs en met ‘n graad in ingenieurswese (elektries) by Stellastraat aangekom. Maar hy was nie hier om na die kerk se alewige kragprobleme te kom kyk nie. Daar was ander uitdagings wat op hom gewag het.

Hy het besluit om die lang pad van teologiese studies aan te pak en sou vir die duur daarvan in Stellastraat as jeugwerker help. En het hy ons nie gehelp nie! Hy het onmiddellik die toe reeds bejaarde Anton en James kom help om iets anders van die aanddiens te maak. En hy roem ook daar op dat hy op die pre-adviesliggaam was wat by die Kerkraad aanbeveel het om ou ds Tienie te beroep.

Hy was in Stellastraat om ‘n verskil te maak. Hy kon, want hy het naby aan die jongmense geleef. Hy het nie probeer om hulle te taal te praat nie. Hulle taal was ook sy taal. Met sy altyd kreatiewe invalshoeke op dinge het hy die jongmense laat regop sit en kon hy vele van hulle aan die beweeg kry.

Sy bydrae was nie tot die jeug beperk nie.

Na voltooiing van sy studies is hy beroep as leraar van Stellastraat. Dit was ‘n logiese en voorspelbare besluit van die Kerkraad. Hy het homself letterlik hier met sy entoesiasme ingewerk. Ons wou nie die geleentheid laat verbygaan om verder by sy gawes te baat nie.   Hy het by die Teologiese fakulteit van UP goeie teologie ingekry en kon help om voort te bou op die fondamente wat Pieter Simpson en Tienie Bosman by Uitreik gelê het.

 

Op sy inisiatief het ‘n klomp dinge tot stand gekom wat vandag ‘n integrale deel van Stellastraat se bediening is. 

Intussen het die jong student getrou, kinders gekry en grys geword.

Hy word juis deesdae by die jaarlikse Danville gesinsdag gereeld as “oupa” aangespreek. Maar dit beteken nie dat hy sy kreatiewe waagmoed verloor het nie. Vanaf 1 September pak hy ‘n reuse uitdaging om van ‘n inter-kerklike jeugbeweging (#Imagine) iets te maak wat die kerk en samelewing kan dien.

Ons gaan Fouché mis. Ons verlies is #Imagine se wins.

Die Here sal jou seën en jou behoed;

Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees!

Die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee

 

 

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Algemeen | Comments Off on Fouche groet Stellastraat na 15 jaar

Senior lidmate byeenkoms

Eerskomende Donderdag is dit nagereg op note. Dit is nou tydens ons byeenkoms vir seinior lidmate wat 10:00 in die binnehof gaan plaasvind.

Toy gaan die verskeidenheid van nageregte voorberei – natuurlik gaan ons die soetigheid bietjie kalmeer met tee en koffie – waarna Maricus ‘n kleinkonsert op die klavier gaan doen. Eintlik is dit nie ‘n kleinkonsert nie, die “nuwe” Yamaha-klavier wat in die binnehof is, is nog nie eers ingewy nie. Dus is dit ook ‘n inwydingskonsert!

 

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Algemeen | Comments Off on Senior lidmate byeenkoms

Bybel in ons lewe – Jesus se grootste preek

Ons het dit leer ken as die bergpredikasie. Dit is die gedeelte in Matteusevangelie (hoofstuk 5-8) waarin Jesus talle uitsprake maak.

Waarom kom die hele bergpreek nie in die ander evangelies voor nie? Hoe is dit moontlik om alles wat Jesus daar sê na te kom? Is die bergpreek regtig Jesus se woorde, is dit nie dalk ‘n tipiese latere byvoeging tot die Matteusdokument nie? Wat maak ons met die baie ooreenkomste tussen die bergpreek en die brief van Jakobus?

Dié kwartaal se Bybel in ons lewe-aanbieding begin aanstaande Sondagaand 19:00 in die konsistorie, en word soos altyd op die Woensdagoggend herhaal. James is die aanbieder.

 

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Algemeen | Comments Off on Bybel in ons lewe – Jesus se grootste preek

Musiek in ’n erediens en jou ervaring daarvan in Stellastraat

Vir n geruime tyd wonder en bedink ek die saak om oor Paasfees se musiek en ons ervaring daarvan te skryf.  Met die week van Pinkster wat verby is het ek tog gevoel dit sal dalk nie skade doen om wel iets oor die musiek in ons   eredienste of wel die ervaring daarvan te skryf nie.

Paasfees was op sy eie ‘n verloop van dienste wat inmekaar gevleg was, en juis so beplan dat indien jy die een diens sou mis, jy nie die werklike prentjie sou kon verstaan van die naweek nie.

Die improvisasie op die kruisiging:

Hier het ons geroer en gekrap waar dit seer maak.  Ons het doelbewus jou laat probeer verstaan waardeur Jesus moes gaan.  Indien jy dink dat dit ligtelik of vir die “show“ was maak jy ‘n groot fout.  Ek kon vir drie dae voor die Wydingsaand nie rustig wees oor wat ons gaan sien nie.  Fick het daardie nag nie ‘n oog toe gemaak nie en ek het soos n kind gehuil na die improvisasie al sien julle my nie raak agter die orrel nie.

Hierdie improvisasie is nie gedoen om te wys wat ons kan baasraak nie, maar wel om te wys hoe rou en seer ons Jesus se kruisdood probeer uitbeeld het.  Vrydagoggend het dr James hieby aangesluit en ons het nagedink oor die feit dat ons ook seer kry, emosioeneel ook mag deel in Christus se lyding, maar ook ons eie lyding.  Die wêreld is nie die beste plek om te wees nie en in daardie twee dae was ons diep bewus dat iets vreeslik gebeur het.

Sondagoggend was dit anders, dit was so anders dat jy vir vyf minute die klokke kon hoor lui.  Die omgewing moes weet iets het verander – Hoor jy die Paasfeesklokke, die Heer is uit die graf!

Sou hierdie so wonderlik kon wees as ons die lyding ligtelik moes aanraak?  Miskien was dit vir jou ‘n vuishou in die maag, maar het dit jou nie bietjie tot besef geruk wat Jesus moes deurmaak nie?  As ons in 12 minute so ontsteld kon raak, het ons dan enige idee waardeur Hy moes gaan?

Pinkster:

Hemelvaartdiens is altyd so ‘n tipe van ‘n vreemde diens, iets wat tog besonder is, maar onwerklik voel.  Soos die week dan van Pinkster verloop, word ons duidelik meer bewus van die Gees wat in ons kom woon het.  Musiek speel die emosionele rol, juis omdat dit daar roer waar woorde nie regtig met jou kan praat nie.  Eintlik wil ek by die volgende uitkom –

  • Musiek in ‘n erediens speel ‘n groot rol, maar nie die hoofrol nie.
  • Woordverkondiging doen, maar musiek ondersteun die verkondiging.
  • Daarom moet jy besef dat indien jy musiekante hoor met baie talent of tegniek dat die dienste NIE hieroor gaan nie.
  • Jy het ‘n emosionele ervaring ja, maar laat dit daar bly.
  • Alle improvisasies wat ek doen word op die teks van daardie lied of die diens gedoen.
  • Dit word nie gedoen om al my truuks of klanke te laat hoor nie –  nee.

Vir my is die erediens nie ‘n vertoning nie.  Dit is ‘n emosionele ervaring, dit is ‘n geleentheid om iets van jouself, hoe gebroke of rou jy ookal is, te kom gee.  Jy weet die enigste ding wat ons met ons menslike ligaam fisies kan gee om vir God dankie te sê is om te sing!  Daarom sal ek nooit instem dat enige erediens se musiek opgeneem word nie.  Hoekom nie?  Dit is nie iets wat so goedkoop kom nie, dit is nie ‘n uitvoering nie, dit is iets wat in daardie oomblik gebeur, gelei deur die Gees en versterk deur die Woord.  Kom liewers weer kerk toe, jy sal dit weer beleef, maar dit kan nooit weer dieselfde wees nie.

‘n Erediens bly vir my ‘n bymekaarkoms van gelowiges waar ons saam kan huil, saam kan juig, maar ook diep nadink oor ons geloof.  Moenie vir my hande klap in ‘n erediens nie (al weet ek dit is dalk net om waardering te wys), maar beleef eerder God se teenwoordigheid in die musiek en die feit dat Hy mense seën met ‘n talent om jou van Sy Grootheid bewus te maak.  Dankie vir diegene wat wel hulle waardering toon na die naspel.

Dus is hierdie stukkie skryfwerk ook ‘n stuk belydenis van my om net te sê – Soli Deo Gloria!

Dankie dat ek in Stellastraat my gawe met julle kan deel.                      

–  Maricus le Grange

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Soos ek dit sien | Comments Off on Musiek in ’n erediens en jou ervaring daarvan in Stellastraat