Die moederskamer is te klein en werk nie. Die boodskap het ons duidelik gekry en die kerkraad het besluit dat daar dringend iets aan gedoen moet word. Die vraag is net – wat? Ons begin met ons ondersoek om hieroor duidelikheid te kry. Sê vir ons wat die behoeftes is en help ons om moontlike oplossings te beoordeel. Indien jy ‘n inset wil lewer, kontak asseblief vir Lizelle Larson (argitek) – 0825661976 of James – 0828527947.
Ons lees hierdie kwartaal “Handelinge” en soek na die antwoord op die vraag “Die Goeie Nuus op Weg of is dit weg?” Ons gaan saam nadink oor die invloed van die Goeie Nuus. Die reeks wat Sondagaand 29 Januarie in die konsistorie aangebied is word weer Woensdag 1 Februarie om 10:00 herhaal. Die tema hierdie week is “Goeie Nuus het voete gekry”. Tienie bied dit aan en die reeks sal ook op die webblad beskikbaar wees.
Ek het lankal ‘n kleintjie dood aan “etikette” waarmee ons mekaar brandmerk. Donderdag 19 Januarie verskyn daar ‘n artikel wat my net weer laat besef hoe vreemd ons met “etikette” omgaan. Neels Jackson berig dat aartsbiskop Desmond Tutu gevra het dat mense moet ophou om na mnr Johan Kotzé as die “Monster van Modimolle” te verwys. Al is mnr Kotzé skuldig aan onmenslike dade, is dit nie reg om na hom as ‘n monster te verwys nie, meen Tutu. Die rede vir hierdie standpunt, volgens Tutu, is dat Kotzé “bly ‘n kind van God met die moontlikheid om ‘n heilige te word”. Dr Isak Burger verskil met Tutu en meen dat “kind van God” in die Bybel gereserveer word slegs vir mense wat met God versoen is.
Nie “monster nie” maar ook nie “kind van God nie”. So asof ons die reg het om te besluit vir wie gee ons watter “etiket”. Wanneer verdien jy dit om “kind van God” genoem te word? Moet ‘n mens dan eers iets bewys voordat jou ouers jou as hulle kind aanvaar? Moet ons dan eers voor God presteer voordat ons kind van God mag wees? Is dit ‘n “etiket” wat mense vir ons gee of is dit ‘n voorreg wat God my gun – ongeag wat mense van my dink?
Oor die Kotzé-sage wil ek my nie uitspreek nie, want onwillekeurig kom die lelikste gedagtes by ‘n mens op. Wat my wel pla, is die manier waarop ons oor mense praat. In die geloofsfamilie van God behoort ons sagter met mense te werk; behoort ons versigtig te wees met die etikette wat ons mekaar gee. “Is jy ‘n Christen of ‘n toegewyde Christen of ‘n wedergeboorte toegewyde Christen?”. Drie verskillende etikette wat ons help om mense te klassifeer opgrond van hulle uitleef van ‘n verhouding waarvan ons eintlik maar min weet. Is dit reg?
Is die manier waarop ons oor mense praat nie maar ‘n weerspieëling van hoe ons oor mens-wees dink nie? Sien ons mense nog as beeld-draers van God? Miskien moet ons weer Jakobus se waarskuwing ernstig opneem. “Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die
tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie”. (Jak 3:9-10). Kom ons wees suinig met ons etikette!
- Tienie Bosman -
Ons jaarlikse Terug-skool-toe projek het in hierdie week ten einde geloop. Ons kon vir 80 graad 1’s help met noodsaaklike gereedskap om die groot jaar mee af te skop. Ons het ’n klomp skryfbehoeftes bymekaargemaak vir ons kleuterskool-vennote: Byers Bytjies in Danville, Mamelodi-Oos en Sunsparrows in Sunnyside. Baie dankie aan almal wat bygedra het en gehelp het met die inpak!