Ou wyn in nuwe sakke

Pinkster 2012  -  James Kirkpatrick

Toe ek verlede Sondag na die blaadjie met die aankondiging van die Pinksterreeks 2012 kyk, lyk dit vir my so vaal.  Byna oninteressant.  Ek glo in Een God, die Vader, Seun, Heilige Gees.  Kan ‘n mens nou iets nuuts daaroor sê?  Waarskynlik nie.  Ek wil net probeer om ou dinge weer te sê, maar dan op ’n manier wat ons harte raak.  Op ’n manier wat nie die onnadenkende aanhaal van ou kerklike uitsprake is nie, maar eerder iets weerspieël van die tyd en wêreld waarin ons leef.  Ou beleë wyn in nuwe sakke.

Ek nooi jou om vanaf Sondag 20 Mei tot Donderdag 24 Mei die reuk en smaak van die ou belydenisse oor God te kom geniet.  Dan kan ons telkens na die tyd oor ’n koppie sop en met ’n broodjie in die hand verder met mekaar praat oor ons geloof in God.

Sondag:         Ek glo in God

Maandag:      Die Vader

Dinsdag:        Die Seun

Woensdag:    Die Gees

Donderdag:   Een God

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Erediens | Leave a comment

ouers@jeuggroepe

Ons is baie dankbaar vir die ouers se betrokkenheid by die jongmense se geloofsvorming.  Eintlik is die gemeente ‘n ondersteuning vir die ouers se verantwoordelikheid en nie omgekeerd nie.  Die gemeente mag nooit die ouers se voorreg om by hulle kinders se geloofsgroei betrokke te wees, oorneem nie.  Hierdie vennootskap is vir ons baie belangrik.  Sondag 20 Mei kan die ouers deelwees van die jeuggroepe sodat hulle kan beleef wat die jongmense beleef.  Dit is ook ‘n geleentheid om die groepleier van nader te leer ken.

So, onthou asseblief dat op Sondag 20 Mei na die 2de diens (10:00), woon ouers van die laerskool jongmense die jeuggroepe by en na die aanddiens (18:00), is dit ouers van die hoërskool (gr 8-11) jongmense se geleentheid. 

Indien jy enige vrae het, skakel gerus vir 10ni (0836275086).

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Jeuggroepe, Toerusting | Leave a comment

Bybel-in-ons-lewe 3

Bitter medisyne vir ’n baie siek pasiënt

In die tagtiger jare het ek die eerste keer in my lewe die boek Amos noukeurig gelees.  En toe besef dat die boek uit die 8ste eeu v C regtig iets vir ons in Suid-Afrika te sê het.  Met die boek Amos in die hand het die destydse Apartheidsamelewing net onhoudbaar gelyk.  So kan jy nie met mense maak nie.  Nie as jy Amos ernstig neem nie.

Intussen het baie dinge in ons land verander.  Maar toe ek onlangs weer Amos van ’n kant af deurwerk, het ek besef – dit is nog steeds so aktueel soos destyds.  Sonder om melo-dramaties te probeer wees moet ons erken dat Suid-Afrika in baie opsigte ’n ongesonde samelewing is.  ’n Toksiese samelewing noem een sosioloog dit.  Amos sit ’n Bybelse vergrootglas neer op korrupsie, grypsug en die onwilligheid van leiers om verantwoordelikheid te aanvaar.

Op ’n verrasende manier is daar in die skerp kritiek van Amos ook die antwoord, die medikasie vir die siek pasiënt.  In hierdie week se Bybel-in-ons-lewe aanbieding, kyk ons na die Suid-Afrikaanse samelewing in die lig van die boek Amos.            (James Kirkpatrick)

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Bybel in ons lewe, Toerusting | Leave a comment

Sosiale ongeregtigheid

As jy die sosiale netwerke en elektroniese media die afgelope paar dae dopgehou het, sou jy sien dat daar ‘n groot veldtog (“Compassion Coup”) geloods was wat sosiale ongeregtigheid in Afrika aangespreek het – nie net die opskudding wat Invisible Children veroorsaak het met hulle video oor Joseph Kony nie (die video is viral – amper 90 miljoen keer gekyk op youtube), maar ook die “Invisible Children” in ons eie omgewing.  (Kenners skat dat daar naastenby 100 000 weeskinders in die Tshwane area alleen is.)

Daar was natuurlik ook baie kritiek uitgespreek teenoor die veldtog – wat help dit nou eintlik om my Facebook status te verander of te tweet oor al die slegte dinge wat in ons wêreld gebeur?  Dit gaan niks aan die omstandighede verander in Uganda, Congo en Suid-Afrika nie.  Of doen dit?

Noem die woorde Invisible Children of Joseph Kony en dadelik sal mense begin praat oor die 35 000 kindersoldate wie se lewens verwoes is, om nie eers te praat van die families en burgers van Uganda nie.  Dit is goed om mense bewus te maak van al die sosiale ongeregtigheid in ons wêreld, maar daar moet ook verantwoordelikheid gevat word daarvoor en iets gedoen word daaromtrent.

Daarom het Compassion Coup nie net probeer om mense bewus te maak van al die ongeregtigheid in  Afrika nie, maar hulle het ook Afrikane uitgedaag om verantwoordelikheid daarvoor te vat en hande te vat saam met agente van verandering wat hierdie ongeregtigheid aanspreek.

As Christene word ons geroep om op te staan vir die marginaliseerdes van ons samelewing en ‘n agent van verandering te wees vir mense wat onsigbaar is en hulle stem verloor het.

-  EJ Leach

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Soos ek dit sien | Leave a comment