Orrelprojek

Ons orrel het iets wat brom en grom, hoe nou gemaak om van dit ontslae te raak?

Wel, die projek van die orrel wat in 2013 plaasgevind het, is nooit ten volle voltooi nie en ek dink dit is nodig om daaraan aandag te gee. By die Diensgroep Erediens en ook by die kerkraad is daar oor die saak gesels.

Die orrel het ‘n beplande uitbreiding wat bestaan uit ‘n Hobo, Trompet, en Bassuin wat die instrument ‘n behoorlikke en warm klank sal gee. Die speeltafel (dit is nou waar ek myself besig hou) moet vervang word en die kerkraad het dit goedgekeur.

Omrede die speeltafel dateer uit 1955, is daar tegnologiese komponente wat vernuwe moet word, anders kan ons eersdaags skreeuende pype verwag!

Ek het dit tog goedgedink om die projek wat beplan was klaar te maak. Mens wil mos nie iets halfklaar los nie. Dus beloop die projek om en by R120 000, waarvan R40 000 reeds deur die kerkraad toegestaan is.

Ons het op 25 Maart ‘n orrelmiddag gehou en ek beplan om kwartaalliks so iets aan te bied om goeie kerkmusiek, maar ook orrelmusiek lewendig te hou in ons gemeente.

Indien ons die projek klaarmaak, belowe ek om ‘n CD-opname te laat maak wat ons ook kan verkoop om die Orrelfonds aan die gang te hou vir die toekoms.

Daar het reeds ‘n paar vriende bydraes gemaak tot die Orrelfonds, maar ons kort nog ‘n paar helpende hande.

Indien jy wil deel vorm van die projek is jy welkom om ‘n pyp te koop. Ons kan nie waarborg dat ons dit vir jou gaan gee nie, maar jy kan elke Sondag saam met jou eie pyp saamsing. Hoe klink R1000 ‘n pyp?

Dis goedkoper as ‘n simfonie orkes, en is ons orrel nie een GROOT simfonie nie? Daarmee saam is jy in die gelukkige posisie om elke Sondag saam met hierdie simfonie die Here te loof.

Kom gesels gerus met my as jy nog meer inligting benodig. Ek dink dit sal wonderlik wees om ons orrel op die standaard te kry waar ons ook internationale orrelvriende kan nooi om vir ons konserte te kom hou, maar die hoofdoel bly steeds om ons gemeentesang op ‘n hoër vlak te kan beleef.

Ons sien uit daarna om jou pyp eersdaags te hoor fluit. Indien jy jou bydrae maak in die kerk se rekening gebruik ASSEBLIEF (Orrelfonds) as verwysing. Anders koop die kerk dalk vir die dominee ‘n nuwe motor ….

Baie dankie vir jou entoesiasme! Maricus 082 735 2275

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
This entry was posted in Erediens. Bookmark the permalink.