Om jou eie kraak in die kerk in te dans

Daar is baie dinge waaroor jy die kerk kan kritiseer.  As jy begin soek na foutlyne, sal jy die kerk eenvoudig vuurrooi van skaamte kan maak.  Die kerk is soos ‘n gekraakte vaas.

‘n Lys van kerklike tekortkominge wat vanjaar weer duidelik geword het, sluit in: die kerk doen nie genoeg vir kinders nie, die kerk doen nie genoeg vir oumense nie, kerkmense is krities-veroordelend, die kerk sif self as dit by die uitdeel van godsgenade kom, daar is min genade vir oortreders in die kerk, die kerk weet nie van my nie, die kerk stel nie belang in my nie, die kerk is te dogmaties, die kerk is besig om sy kernbesigheid te verwaarloos, die kerk  skakel nie sy nuwe lidmate in nie, die kerk is altyd in konflik, die kerk sit vol huigelaars, die kerk is inkonsekwent, die kerk lieg vir homself en vir die wêreld, die kerk se musiek is outyds, die kerk het ‘n konsert geword. En so kan ons aangaan, elkeen kan nog ‘n kraak in die vaas raaksien.gekraakte-kruik

Maar jy kan ook op ‘n ander manier na die kerk kyk. Verby die krake. Diep in sy bestaan is die kerk Liefde en liefde. Jy kyk en jy sien die liefdesgestalte van die Christus raak. In die kerk. En jy sien voortdurend mense wat op die maat van Christusliefde dans. Die Liefde kan nie bars of breek nie. Die volkomenheid van dié Liefde hou die vaas aanmekaar. Die Liefde verskaf ritme, musiek.

Op ‘n vreemde manier hou almal van ons vas aan die Liefde en die liefde. Dié wat die krake veroorsaak, en die wat slagoffers van die kerk se tekortkominge geword het, keer meer dikwels terug na die Liefde en begin weer en weer om op Sy ritme te dans. Die oumense wat soms voel hulle is vergeet, die jonggetroudes wat instinktief hulle kinders aan die Liefde en liefde wil blootstel, die wat sukkel om te glo, die wat weens hulle “anderste” geslagtelikheid woedend was vir die uitsluiting. Almal van ons keer terug. Ons kan ons vervies vir die krake en die barste, maar nie vir die Liefde nie. En ook nie vir die wat die liefde lewe nie.

Dan loop ons verbAntony die krake, al is hulle soms soos groot soos barste. En binne in die kerk kry ons die Liefde – of Hy mities is of nie – vir mense is Liefde die grootste Begeerte. ‘n Wesenlike Werklikheid waarsonder ons nie kan lewe nie. En liefde vind ons in mense wat hulle lewenshouding ingestem het op die Liefde.  Wanneer jy dit gevind het, dan word jy skaam – want jy besef jy het so gekon-sentreer op die foute van mense, dat jy in die proses die Liefde misgekyk het, en jou eie kraak in die kerk ingedans het.

–  Anton Pienaar

 

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
This entry was posted in Soos ek dit sien. Bookmark the permalink.