My nostalgie oor grond is diep

Niemand kan iets oor grond sê sonder om emosioneel te wees nie.  Op meeste plaasgrond lê sweet. En soms bloed.  Trane.  Plaasgrond is vir baie mense grootwordgrond toegedraai in nostalgie en verlange.  Daarom mag ek ook iets oor grondvat-sonder-vergoeding sê.

My nostalgie is diep.  Ek wens ek kon boer.  In ons familie het altwee my oupas en my pa plaasgrond gehad.  Op die Hoëveld en in Wes-Transvaal.  My voorgeslagte se kleintydstories was plaasstories. Vandag is daar nie meer ’n enkele plaasbesitter in ons familie nie.  Die oupa’s se plase is ingesluk deur   megaboere, en my pa se stukkie grond behoort aan ‘n nuwe boer van Swaziland.

Al het ek heimwee oor die plase waarop ek as kind “grootgeword” het, sal ek nie kan boer nie.  Om te kan boer is ‘n talent.  En dit verg harde werk en goeie bestuursvaardighede.  Nie alle mense wat huidig plase besit is goeie boere nie.  Nie alle  mense wat graag plase wil besit gaan goeie boere wees nie. Daar is Afrikaners wat deur jare se ondervinding boedery in hulle bloed het.  Uitgeknip vir boer.  Daar is ook swart- en bruin- en Indiërboere van wie ons reeds dieselfde kan sê.

Dit is volstruispolitiek om te dink dat wit boere vir altyd die dominante groep boere in Suid-Afrika gaan bly.  Soos bykans elke aspek van die Suid-Afrikaanse samelewing verander het met die vestiging van ‘n demokratiese bestel, so sal die  ratio van wit en swart en bruin en Indiërboere ook verander.  Dis ‘n gegewe.

(Ek het egter sterk voorbehoude teen die stelling dat wit mense die grond van inheemse mense gesteel het.  Orals in die wêreld het mense grond en mag bekom deur ontdekkingsreise, imperialisme en oorloë.  As almal wat hulle grond so bekom het dit moet teruggee, gaan dit chaos in die wêreld afgee.  Hoekom wit mense in Suid-Afrika die gefokusde beskuldigdes moet wees, verstaan ek nie?)

Dit beteken nie dat ek nié begrip het vir ander kultuurgroepe wat ook plaasgrond wil hê en met dieselfde   verlange in hulle harte sit nie.  Grondbesit sal verander, met die tyd.  Wat egter onstellend is, is die dreigende en beledigende taal wat in die huidige debat plaasvind.  Emosies na alle kante toe word opgesweep.  Daar is die wat nou-se-lewe, die arbeid van gister en die toekoms wil beskerm, maar dan is daar ander wat nou die verlore lewe en toekoms wil gryp, en wat uit hulle veragting van die verlede  gevaarlik ongeduldig is.

My gevoel is dat indien iemand nie volwassenheid en kalmte aan die gesprek gaan bring nie, is geweld ons voorland.  Die Reënboognasie en wonderwerk-versoening wat in Suid-Afrika gebeur het, sal in Van Hunks se pyprook opgaan.  Daar is twee groepe wat bestuur moet word.  Die wat niks het om te verloor nie en nie sal omgee vir anargie nie.  En die wat grond besit, en families het, wat hulle grond ten dode sal beskerm omdat hulle nêrens het om heen te gaan nie.

Jy kan nie ‘n puisie ryp druk nie.  Jy kan nie jou oes  bereken voordat die reënseisoen verby is nie.  Suid-Afrika het nou leierskap en insig nodig soos nog nooit te vore nie.

–  Anton Pienaar

 

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
This entry was posted in Soos ek dit sien. Bookmark the permalink.