Menseregtedag behoort ‘n dag van verootmoediging te wees

Menseregtedag, of regtemensedag soos die skrywer Hennie Aucamp dit genoem het, behoort ‘n godsdienstige vakansiedag te wees.  Hieroor sal baie van my verskil.  Veral as jy die jare onthou wat daar gedurig in die kerk gewaarsku is teen ‘n “social gospel”.

Dit is die tyd waar dit so mooi netjies verduidelik is met die onderskeid tussen vertikale en horisontale verhoudings waarin ons staan.  Vertikaal met God en horisontaal met mense.  Met die klem dan op die eerste.  Dit is wat eintlik saak maak en waarmee die kerk moet besig wees.  Dit het dit ook moontlik gemaak om die een sonder die ander te hê.  Jy kon God liefhê en die verhouding met mense uitskuif na ‘n laer vlak waar die politiek van die dag bepaal het hoe jy dink.

Hierdie onderskeid gaan nie op nie.  Dit is weer ‘n geval van ons wat skei wat God saamgevoeg het.  As die digter van Psalm 51 sy sonde bely sê hy: “Dit is teen U wat ek gesondig het!  En wat is die sonde?  Dat hy ‘n ander man se vrou onregmatig gevat het.  Die oortreding teen ‘n medemens se regte is ‘n oortreding teen God.  Niks horisontaal of vertikaal nie.  Alles het met alles te make.  Menswaardigheid is nie iets wat mense verdien nie. Dit is iets wat God gee aan alle mense.  Alle mense is geskape na God se beeld.  Omdat God dit skenk, “verdien” alle mense om menswaardig behandel te word.  Met Menseregtedag vier ons dit dat ons almal vir God waardevol is.  Dit is ‘n diep godsdienstige oortuiging.

Ons het so ‘n godsdienstige feesdag nodig, want ons sukkel om hierdie Godgegewe menswaardigheid van mense prakties deel van ons lewe te maak.

Rassisme steek om elke hoek en draai sy kop uit.  Hoe mense lyk, word meermale die filter wat ons verhinder om almal as beeld van God te erken.

Vra vir gestremde mense hoe hulle dikwels neerbuigend behandel word.  Hulle sien eers my rolstoel en dan vir my verwoord ‘n gestremde lidmaat dit onlangs.

Ons aanvoeling vir wat seksisme is, is nog erg onderontwikkel.  ‘n Gemeente hou ‘n manne-konferensie met die tema I am a warrior met die foto op die brosjure van ‘n soldaat tot op die tande bewapen. Nou wonder ek waaroor gaan die manne nou weer praat in die afwesigheid van die vroue.  Of moet die vroue op hulle beurt ‘n konferensie hou met stereo-tipes van hulle eie?  Die kerk se verstaan van geslagsgelykheid vra ons dringende aandag.

Die NG Kerk se 2016 besluite oor mense van dieselfde geslag wat in verhouding van liefde en trou leef  is ‘n voorbeeld van hoe gebrekkig ons insig in Godgegewe menswaardigheid is.  Volgens die besluit kan net heteroseksuele mense regtig liefhê.  Wie gaan in die lig van sulke besluite die kerk ernstig neem as die kerk oor menswaardigheid praat?

Dalk moet ons Menseregtedag gebruik om ‘n oomblik na te dink oor wat dit regtig beteken om mens te wees voor God.  Geskape na God se beeld.  Dit word dan miskien ‘n dag van verootmoediging waarin ons bely dat ons min van menswaardigheid verstaan.

–  James Kirkpatrick

 

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
This entry was posted in Soos ek dit sien. Bookmark the permalink.