Johan Heyns. Waar is die oupa?

Ek het ook ‘n Johan Heyns-stuiwer te gooi. Daar is baie stuiwers oor die enigmatiese mens wat in dié dae 90 jaar oud sou word indien hy nog gelewe het. Wanneer jy met oudstudente of kollegas praat, sal jy inte- ressante staaltjies van Johan Heyns hoor. Hy was ‘n ‘rare’ mens – waar hy was, was niks vervelig nie. ‘n Uitstekende orator. Belese. Ingelig. Unieke humorsin. Orals in aanvraag.

In ‘n era toe die wêreld Suid-Afrika begin prik het oor apartheid as politieke sisteem, het hy as gerespekteerde kerkleier begin sê: ons moet hier uitkom. As lojale Afrikaner het hy begrip getoon dat die wêreld wat Afrikaners besig was om te skep, nie volhoubaar was nie. Daar was baie hoop dat hy met sy charismatiese persoonlikheid, en verbondenheid aan die Afrikanergemeenskap, insig en verandering kon bewerkstellig.
Sy dood – ‘n koelbloedige moord – het sy moontlike rol getermineer. Vir baie was hy die nodige en noodsaaklike stem. Vir ander was hy ‘n verraaier, ‘n gevaarlike stem. Ons gesin het hom op ‘n ander manier leer ken. Kort voor die sluipmoord op hom, het hy een aand op Amersfoort by ons in die pastorie oorgeslaap. Hy was oppad om ‘n ontbytgeleentheid op Volksrust te gaan toespreek. Ek het my lippe afgelek vir die geleentheid om persoonlik met hom te praat. Oor alles wat in die brandpunt was. Maar watwou. Daar in die sitkamer moes ek sit en kyk hoe hy met my kinders speel en praat – hulle was nog klein. Ek was net ‘n toeskouer. Hy wou by hulle elkeen hoor wat hulle eendag gaan word, en hulle aangemoedig want die land het hulle nodig. Hy het elkeen in die oë gekyk en met sy speelsheid hulle volle aandag gehad.
Die volgende oggend is ek en hy vroeg weg na die onbyt. Toe vra Esmarie (nog voor skool) vir Hanna: “Waar is die oupa wat gister hier was, ek wil weer met hom speel?” Hy het ‘n indruk op ons voorskoolse kinders gelaat wat ek nie verwag het nie.
As ek oor hom en sy status in die Afrikanergemeenskap dink, dan wonder ek waar hy vandag sou staan? Die koninkryk van God en geregtigheid was terme wat waarmee hy ernstig op verskillende podiums omgegaan het. Hoe sou hy oor die Afrikaner en Afrikaans se voortbestaan gedink het? En die rol van die NG Kerk in die tyd waarin ons leef? Daar het so baie water in die see geloop sedert hy na vore getree het as wydgerespekteerde en verligte Afrikaner.

-Anton Pienaar

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.