GOD IS GOED….en?

In die boek Roepman skets Jan van Tonder ‘n toneel waar die kinders by die kerk een Sondagoggend ‘n muntlegging hou.  Die dominee het met kryt op die sypaadjie geskryf GOD IS GOED, en die kinders moet die letters kom volpak.  Dan kyk die dominee die spul só, want daar gaan maar min sente in so ‘n kort sin in, en dan maak hy ‘n plan:

“Maar dink julle dis genoeg om te sê God is goed?  Kom ons kyk of ons sy Naam groter as dit kan maak.  Proponent  Zaaiman, skryf vir ons nog iets daarby op die paadjie.  Wat van: en regverdig?  Kinders, dink julle nie die Here sal dit waardeer nie?  Die proponent lyk nie of hy dit graag wil doen nie, maar hy vat die bordkryt… toe hy klaar is, staan daar: GOD IS GOED EN REGVERDIG.  Dit gaan baie geld kos om die Here se naam só groot te maak…

 Die toneeltjie het my laat glimlag, want ek onthou ‘n Sondag in Rustenburg in graad vier toe ek ook letters met sente moes volpak – ons moes JESES IS HEER volpak, want die koster het te laat sy spelfout agtergekom, en die kryt wou nie lekker uitvee nie.

Maar die verhaal laat my ook frons, want ek herken iets van die ongemak wat ons soms het as dit kom by God en genade.  So asof dit al te veel by ons ingedril is: As dit te goed is om waar te wees, dan is dit.  God kan tog nie nét GOED wees nie? 

Maar dan weer, as ons Bybelverhale lees, dan lees ons keer op keer GOD IS GOED EN NIE REGVERDIG NIE.  Want niemand kry wat hulle eintlik verdien nie.  Jy kan begin by die kaal mense in die tuin en jy kan eindig by Petrus wat ‘n blinde oog na sy rabbi toe gooi.  As God REGVERDIG was, soos ons dit gewoonlik verstaan, was ons in die moeilikheid.  In Roepman se toneeltjie gaan dit dan juis ook maar broekskeur om God se regverdige G vol te kry.  Ons tel moeilikheid op wanneer ons verkeerde woorde byskryf by God. 

Marcus Borg skryf hoe radikaal Jesus was deur die heiligheid van God, wat sentraal was aan die Jode se verstaan van God, te vervang met empatie.  In plaas van die bekende “Wees heilig, want God is heilig”, sê Jesus eerder “Wees barmhartig, want God is barmhartig”. 

Mag ons traag wees om te vinnig na die kryt te gryp en te probeer om God se naam groter te maak.  In die woorde van die dominee, ek dink nie die Here sal dit waardeer nie.  Mag dit soms vir ons genoeg wees om te sê GOD IS GOED.  Want daar is ander maniere om sente in te kry wat ons nie soveel gaan kos in geloofwaardigheid nie.  En mag ons in ons navolging van Jesus barmhartigheid leef.

–  Fouché de Wet

 

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
This entry was posted in Soos ek dit sien. Bookmark the permalink.