Soos baie van ons, dra ek die kruis om ‘n groot deel van my tyd in vergaderings deur te bring. Ek wens daar was ‘n toestel wat ‘n mens se beeld op ‘n stoel in ‘n vergaderinglokaal sou kon projekteer, sodat mens nie self daar hoef te wees nie. En veral omdat dit my ervaring is dat ‘n vergadering grotendeels ‘n aktiwiteit is waar mense hulle ego’s probeer streel.
Ek verbaas my altyd oor hoe niemand eintlik vir iemand anders luister nie, behalwe om ‘n willekeurige aansluitingspunt te vind om ‘n eie eiertjie gelê te kry, ‘n eie agenda te bevorder, of om net bloot ‘n eie stem te hoor. Daar is gewoonlik maar min sprake daarvan om jouself in iemand anders se skoene te probeer plaas en om regtig te kommunikeer.
As daar besluite geneem word (in meeste vergaderings word belangrike besluite vermy en op gemanipuleerde manier verwys vir agter-die-skerms resolusie), is dit gebaseer op ‘n soort negatiewe konsensus, waaroor almal ongeveer ewe ongelukkig is, eerder as wat daar ‘n optimale samevoeging van die beste van almal se insette bereik word.
Vir my is een baie besondere uitsondering op hierdie ongelukkige reël, die Stellastraat kerkraadsvergaderings. Keer-op-keer gebeur dit dat, nadat die kerkraad moes besin oor ‘n moeilike aangeleentheid, een van die predikante kommentaar sal lewer oor hoe die besluit wat geneem is, anders is as wat die predikantespan verwag het, maar tog ‘n baie sinvolle, positiewe konsensus verteenwoordig.
Dr James, wat jare al die voorsitter van die vergadering is, verdien baie krediet vir die kwaliteit van hierdie
vergaderings, maar die weldeurdagte besprekings en liefdevolle inter-aksies getuig van die ligte en dienende manier waarop die kerkraadslede met mekaar en met die kerksake omgaan, meestal vry van eie ego’s.
- Johann Wannenburg







