Die donnerende donker is nie vêr nie

Ons oudste dogter het in haar skooljare vriende geword met Johann Botha.  Johann van 50/50 faam.  Johann wat operamusiek deur die ‘Dis Opera-program’ op Sondagaande vir Afrikaanse luisteraars lewend gemaak het.  Daarvoor alleen behoort daar vir hom ‘n monument opgerig te word!

Petro se vriendskap met Johann het deur die tienermusiekprogram op Maandagaande, Tempo, gekom.  Ek moes haar van Amersfoort af aanry SAUK toe, sodat sy saam met Johann op die radio kon praat oor rockgroepe en -klanke wat ek nou nog nie verstaan nie.  Deur haar het ek met hom bevriend geraak en sy interessante, dog intense lewe leer ken.

Johann was een van Afrikaans se buitengewoon begaafdes.  Daar was niks waarvan hy nie omtrent alles geweet het nie.  Al het hy op sy dag Cravenweekrugby gespeel, het hy sport bietjie agter gelaat, en was dit die aarde se oorlewing wat hom geinteresseer het.  En musiek.  Enige genre.  Ek het my verstom oor sy intergrasie van klassieke musiek met die moderne, vir my, onbegryplike klanke.

Wat ek die heel meeste van Johann gehou het, was sy ongeveinsdheid.  Ek onthou hy het nie geskroom om sy ontevredenheid uit te roep met die verlaging van standaarde by die uitsaaistasie wanneer daar nuwe aanstellings gemaak is nie.  Of wanneer hy huigelary of ‘ignorance’ raakgeloop het in natuursake.

Daarom was ek nie verras om te verneem dat hy ook baie bedruk, of soos die volksmond sê, ‘depressief’ kon word nie.  Wanneer die onbillike seëvier, of wanneer daar sinlose vernietiging is, en jy daaraan niks kan doen nie, dan bedonner die donker jou gemoed.  Die Bybelse Prediker se ervaring van lewe, het dikwels in Johann se hart weerklank gevind.

Johann het soms roekelose opmerkings oor doodgaan gemaak, veral omdat hy met sy ondersoekende joernalistiek op tone getrap het en waarskynlik dreigemente ontvang het.

Ek is meer as ontsteld oor Johann se dood. Daar is baie van ons wat assosieer met Johann en sy ingesteldheid teenoor die lewe.  Hy het ‘n kleintjie dood gehad in politieke korrektheid.  Hy kon dit nie verdra dat mense hulle eie   koninkryke skep ten koste van die waarheid of geloofwaardigheid nie.  Huidig is ons land se      politiek so.  Ek het al die kerk so ervaar.  Mense hou nie van eerlikheid nie. Solank die lewe vir hulleself soos ‘n lekkergoedwinkel is.  Dis al. 

Waarom word so baie mense in ons land vermoor?  ‘n Halfmiljoen die afgelope 20 jaar.  Wat is wie se lewe werd in Suid-Afrika?  More is dit ons, ek of jy.  Die donnerende donker is nie vêr nie.  Wie gaan dit stop?  Die sinlose dood van   Johann Botha en Hannah Cornelius trek die donker nader aan ons almal.

–  Anton Pienaar

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
This entry was posted in Soos ek dit sien. Bookmark the permalink.