Beveg die bose met gif

Die sosiale media het Maandag (21 November 2016) behoorlik gegons nadat foto’s op Twitter en Facebook verskyn het wat wys hoe lidmate van die Mount Zion General Assembly met DOOM bespuit word.  Pastoor Lethebo Rabalago het glo aan lidmate gesê die DOOM sal enige bose geeste uitdryf wat in hulle is.  Dit is glo ook volgens hom ’n kuur vir kanker en ander siektes soos die MI-virus.  Skepties het mense opmerkings gemaak soos “So iets is net in Afrika moontlik!

Mense se sin vir humor het ook nie agtergebly.  So is daar byvoorbeeld gespot en gesê dat die mense in hierdie gemeente mekaar groet met “DOOMelang” en die pastoor word “DOOMinie” genoem.  Hierdie gemeente se slagspreuk is dan ook “Let Baygons be Baygons”.  Die arme Land Rovers is ook nie gespaar nie.  So word beweer dat elke nuwe Land Rover met ‘n blikkie DOOM toegerus is, want dit voorkom glo olie-lekke!  En so lag ons lekker vir mense se onkunde en bygeloof.  Om te dink jy kan die bose met gif beveg!

Ek het toe sommer maar net gewonder wat ander mense van ons as Christene dink as ons die bose probeer beveg deur “die huis skoon te maak”.  ‘n Ruk gelede was daar ‘n DVD in omloop waarop daar  beweer word dat as jy teenspoed wil voorkom, moet jy alle Japanese voertuie met olyfolie salf.  Jy moet ook alle voorwerpe soos sterretekens of Afrika-artifakte uit jou huis verwyder.  Jy mag ook nie seker banke se kredietkaarte gebruik nie, want dit word met die getal 666 verbind wat die simbool van die dier is volgens Op 13:16-17.  En as jy eers met die getal 666 besig is, is daar byna geen produk wat jy mag gebruik nie, want dit kan met hierdie getal verbind word.  Oor hierdie “bygeloof” van Westerlinge lag en spot ons nie.  Hierdie bygeloof kan selfs gesinne en families skeur.

Miskien onderstreep die DOOMprofeet en mense se vrees vir die bose die een ding naamlik, ons soek altyd die bose in iets of iemand buite onsself.  Ons is nie bereid om verantwoordelikheid te aanvaar vir ons eie boosheid en die seer wat ons aan mense om ons veroorsaak nie.  Wanneer ons dan bid “Verlos ons van die Bose” (Mat 6:13) behoort dit met ‘n stuk erkenning te wees dat die Bose ook in my ‘n stuk boosheid kom losmaak het.

TienieGelukkig is hierdie Sondag 1ste Advent – die kerk se viering van God wat mens geword het en in die mens Christus het God ons kom verlos van die bose.  Mag elkeen van ons hierdie feestyd weer bewus word dat ons nie DOOM, of gif of watter bygeloof nodig het om die bose te beveg nie.  Vir ons vryheid het God mens geword.

–  Tienie Bosman

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
This entry was posted in Soos ek dit sien. Bookmark the permalink.