Aswoensdag en rituele vir lydenstyd – Nadenke en toewyding, word gerus deel daarvan

Eerskomende Woensdag, 6 Maart, is die eerste dag van 40 dae waarin die Christelike kerk nadink oor Jesus se aardse lyding. In Stellastraat word ons deel van die wêreldwye tradisie van Christene met ons eie Aswoensdagdiens 19:00 in die kerk.

Dit is ‘n diens sonder ‘n preek. ‘n Nadinkgeleentheid. Dit word ook veroortmoediging genoem. Ons word stil oor ons onvermoë, spreekwoordelik ons ‘verlorenheid’. Ons stroop onsself van alles wat ons dink ons is, en dan word die kruis nader gebring. Die kruis is ‘n simbool van God wat in liefde na ons toe kom.

Daarom kry elkeen wat by die diens is, wanneer ons uitgaan, ‘n kruisie op die hand wat gemaak is van ‘n mengsel van as en olyfolie. Die as is afkomstig van die palmkruisies wat die vorige jaar op Goeie Vrydag in die kollektebordjies geplaas is. Die kruisies het droog geword en dit is gebrand tot as.

Op die dag begin baie Christene ook met ‘n tydperk waarin hulle, hulle van iets weerhou in ‘n poging om nie te vergeet dat hulle harte ingestel is op die lyding van Jesus nie. Woensdag is dus vir baie die begin van ‘n geestelike vas. Anton, Fay en Lourens lei Woensdagaand se Aswoensdagdiens.

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.