Ander mense

Toe ek klein was, moes ek dikwels hoor dat ek nie iets kan doen nie, want “Wat sal ander mense daarvan sê?”

Ek het my nog altyd min gesteur aan wat ander mense van my sê.  Ek het een lewe wat ek voluit wil lewe.  Wat ander mense van my dink of sê, sal net my aandag aftrek van wat ek wil bereik.  Die enigste voorwaarde is dat my optrede hulle nie skade moet doen nie.

Nou het Carina, my en Sunélle se dogter, ‘n gedig geskryf wat my baie laat dink aan wat   ander mense sê: 

Aan ID du Plessis

(my stelling aan ID du Plessis na aanleiding van sy gedig “as ek my vreemde liefde”)

Ek wens ek kon jou vertel

dat jou vreemde liefde

nie meer so vreemd is nie

alhoewel

die kerk hulself soms as God voorstel

en bepaal dat liefde wat nie reg lyk nie

nie liefde kan wees nie.

 

Besoedelde vingers

steek almal steeds in die lug

want vrees vir God

is kleiner as vrees vir die hel

ons idee van liefde is verwronge

maar ons idee daarvan is vas

jou idee van liefde was slegs vreemd

omdat dit onvoorwaardelik was.

Inderdaad sal die lewe ‘n beter plek wees as ons almal minder menings oor ander mense se privaatkeuses en doen en late uitspreek.  Solank hierdie doen en late nie ander kwaad aandoen nie, het dit eintlik niks met enige ander persoon uit te waai nie.

Ek praat hier van privaatgedrag.  Ek praat nie van openbare gedrag soos byvoorbeeld die optrede van mnr Zuma of die direksie van Steinhoff nie.  Hieroor moet ons almal kommentaar lewer, want dit is tot nadeel van ons almal.  Maar steeds moet ons kommentaar oor hierdie mense se privaat-gedrag beperk.

So dikwels is die antwoord “Maar die Bybel sê so.”  As ek letterlik en volgens alle Bybelse voorskrifte moet leef, sal ek regtig baie teenstand ondervind wat tot groot hartseer kan lei.  Ek werk immers by ‘n sekulêre universiteit wat ruimte skep vir alle rasse, geloofsoortuigings en lewensvoorkeure.

Voorts skryf die Bybel ook voor dat ek almal met ‘n broederlike kus moet groet.  As ek hier by  Stellastraat skielik soenerig raak, sal ek min vriende oorhê.  My broer sal ook nie weer vir my kom kuier nie.  Sunélle sal ook frons.

My oproep is dus vir lewensruimte vir ander   mense se privaatoptrede sonder nydige kommentaar daaroor, solank dit niemand anders benadeel nie.  ID du Plessis het dit duidelik nodig gehad.

 

–  Jannie Rossouw

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
This entry was posted in Soos ek dit sien. Bookmark the permalink.