Senior lidmate byeenkoms

Eerskomende Donderdag is dit nagereg op note. Dit is nou tydens ons byeenkoms vir seinior lidmate wat 10:00 in die binnehof gaan plaasvind.

Toy gaan die verskeidenheid van nageregte voorberei – natuurlik gaan ons die soetigheid bietjie kalmeer met tee en koffie – waarna Maricus ‘n kleinkonsert op die klavier gaan doen. Eintlik is dit nie ‘n kleinkonsert nie, die “nuwe” Yamaha-klavier wat in die binnehof is, is nog nie eers ingewy nie. Dus is dit ook ‘n inwydingskonsert!

 

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Algemeen | Comments Off on Senior lidmate byeenkoms

Bybel in ons lewe – Jesus se grootste preek

Ons het dit leer ken as die bergpredikasie. Dit is die gedeelte in Matteusevangelie (hoofstuk 5-8) waarin Jesus talle uitsprake maak.

Waarom kom die hele bergpreek nie in die ander evangelies voor nie? Hoe is dit moontlik om alles wat Jesus daar sê na te kom? Is die bergpreek regtig Jesus se woorde, is dit nie dalk ‘n tipiese latere byvoeging tot die Matteusdokument nie? Wat maak ons met die baie ooreenkomste tussen die bergpreek en die brief van Jakobus?

Dié kwartaal se Bybel in ons lewe-aanbieding begin aanstaande Sondagaand 19:00 in die konsistorie, en word soos altyd op die Woensdagoggend herhaal. James is die aanbieder.

 

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Algemeen | Comments Off on Bybel in ons lewe – Jesus se grootste preek

Musiek in ’n erediens en jou ervaring daarvan in Stellastraat

Vir n geruime tyd wonder en bedink ek die saak om oor Paasfees se musiek en ons ervaring daarvan te skryf.  Met die week van Pinkster wat verby is het ek tog gevoel dit sal dalk nie skade doen om wel iets oor die musiek in ons   eredienste of wel die ervaring daarvan te skryf nie.

Paasfees was op sy eie ‘n verloop van dienste wat inmekaar gevleg was, en juis so beplan dat indien jy die een diens sou mis, jy nie die werklike prentjie sou kon verstaan van die naweek nie.

Die improvisasie op die kruisiging:

Hier het ons geroer en gekrap waar dit seer maak.  Ons het doelbewus jou laat probeer verstaan waardeur Jesus moes gaan.  Indien jy dink dat dit ligtelik of vir die “show“ was maak jy ‘n groot fout.  Ek kon vir drie dae voor die Wydingsaand nie rustig wees oor wat ons gaan sien nie.  Fick het daardie nag nie ‘n oog toe gemaak nie en ek het soos n kind gehuil na die improvisasie al sien julle my nie raak agter die orrel nie.

Hierdie improvisasie is nie gedoen om te wys wat ons kan baasraak nie, maar wel om te wys hoe rou en seer ons Jesus se kruisdood probeer uitbeeld het.  Vrydagoggend het dr James hieby aangesluit en ons het nagedink oor die feit dat ons ook seer kry, emosioeneel ook mag deel in Christus se lyding, maar ook ons eie lyding.  Die wêreld is nie die beste plek om te wees nie en in daardie twee dae was ons diep bewus dat iets vreeslik gebeur het.

Sondagoggend was dit anders, dit was so anders dat jy vir vyf minute die klokke kon hoor lui.  Die omgewing moes weet iets het verander – Hoor jy die Paasfeesklokke, die Heer is uit die graf!

Sou hierdie so wonderlik kon wees as ons die lyding ligtelik moes aanraak?  Miskien was dit vir jou ‘n vuishou in die maag, maar het dit jou nie bietjie tot besef geruk wat Jesus moes deurmaak nie?  As ons in 12 minute so ontsteld kon raak, het ons dan enige idee waardeur Hy moes gaan?

Pinkster:

Hemelvaartdiens is altyd so ‘n tipe van ‘n vreemde diens, iets wat tog besonder is, maar onwerklik voel.  Soos die week dan van Pinkster verloop, word ons duidelik meer bewus van die Gees wat in ons kom woon het.  Musiek speel die emosionele rol, juis omdat dit daar roer waar woorde nie regtig met jou kan praat nie.  Eintlik wil ek by die volgende uitkom –

  • Musiek in ‘n erediens speel ‘n groot rol, maar nie die hoofrol nie.
  • Woordverkondiging doen, maar musiek ondersteun die verkondiging.
  • Daarom moet jy besef dat indien jy musiekante hoor met baie talent of tegniek dat die dienste NIE hieroor gaan nie.
  • Jy het ‘n emosionele ervaring ja, maar laat dit daar bly.
  • Alle improvisasies wat ek doen word op die teks van daardie lied of die diens gedoen.
  • Dit word nie gedoen om al my truuks of klanke te laat hoor nie –  nee.

Vir my is die erediens nie ‘n vertoning nie.  Dit is ‘n emosionele ervaring, dit is ‘n geleentheid om iets van jouself, hoe gebroke of rou jy ookal is, te kom gee.  Jy weet die enigste ding wat ons met ons menslike ligaam fisies kan gee om vir God dankie te sê is om te sing!  Daarom sal ek nooit instem dat enige erediens se musiek opgeneem word nie.  Hoekom nie?  Dit is nie iets wat so goedkoop kom nie, dit is nie ‘n uitvoering nie, dit is iets wat in daardie oomblik gebeur, gelei deur die Gees en versterk deur die Woord.  Kom liewers weer kerk toe, jy sal dit weer beleef, maar dit kan nooit weer dieselfde wees nie.

‘n Erediens bly vir my ‘n bymekaarkoms van gelowiges waar ons saam kan huil, saam kan juig, maar ook diep nadink oor ons geloof.  Moenie vir my hande klap in ‘n erediens nie (al weet ek dit is dalk net om waardering te wys), maar beleef eerder God se teenwoordigheid in die musiek en die feit dat Hy mense seën met ‘n talent om jou van Sy Grootheid bewus te maak.  Dankie vir diegene wat wel hulle waardering toon na die naspel.

Dus is hierdie stukkie skryfwerk ook ‘n stuk belydenis van my om net te sê – Soli Deo Gloria!

Dankie dat ek in Stellastraat my gawe met julle kan deel.                      

–  Maricus le Grange

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Soos ek dit sien | Comments Off on Musiek in ’n erediens en jou ervaring daarvan in Stellastraat

My oë kan die rook nie hanteer nie

Die normale gesprekspunte bly maar die ekonomie, politiek en waarheen elkeen se familie-bootjie in hierdie onstuimige SA-see oppad heen is.  Dis ons Ooste se praatjies.

Jaarliks sorg Stellastraat dat ons uitreik na onse mense daar in die Weste en elke jaar kom jy daar weg nederig en geweldig verryk.  Dit is daar waar die ‘sout van die aarde’ nuwe betekenis kry; waar die kinders kaalvoet op die koue gras speel, grootoog saamdrom om Chante die hanswors, lekker verf en saam stil raak as Fouché begin praat oor dit wat jy ontvang het.  Maar, dit is ook daar waar dit jou opval hoe lank die tou na die koffietafel is, hoe daar ‘n naderstaan is naby die worsbroodjietafel, as daar ‘n kans is vir ‘n tweede worsbroodjie …  Dit is ook daar waar jy in perfekte Afrikaans gesels met ‘n familie van nege kinders – met niks – almal perfek uitgevat in gister se klere; die ma ‘n wonderlike vrou uit die Noord-Kaap, die man ‘n Zoeloe wat nie meer kan werk nie as gevolg van ‘n beroerte … maar hy het ‘n droom.  Hy wil ‘n Christelike Sportakademie begin om die lokale kinders ‘n doel in die lewe te gee.  Jy praat lank en sê jy sal kyk wat jy kan doen …. met mense praat …

Dan stap jy terug na die worsbraai, Koos bied jou sy oogdruppels aan … ”ja, my oë kan ook nie die rook hanteer nie”.                      –   Anton de Jongh

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Uitreik | Comments Off on My oë kan die rook nie hanteer nie

Skielik besef jy, jy het genoeg

Elke jaar heers daar opgewondenheid oor die uitreik Sondag by Danville en hierdie jaar was ook geen uitsondering nie.  Van baie vroegoggend in die donker word voertuie gelaai met alle nodige toerusting om die Laerskool rugbyveld in ‘n feesterrein te omtower. 

In die winterkoue en warm klere is almal aan die skarrel en vure begin brand en die reuk van boerewors, pannekoek en jaffels hang reeds in die lug en die mense kom aan om deel te wees van ‘n grootse projek wat ons Stellastraters vir hulle bied.

By die koffietafel staan daar sommer vinnig rye, want almal soek ‘n ietsie om hulle warm te maak en ons sing lekker met begeleiding deur Edward en Fouché en Fouché lei die diens en almal begin nou warm kry in die heerlike winterson.

Van die mense gesels sommer spontaan en vertel van hulle lewe en jy luister …  want jy het deernis en empatie en skielik besef jy, jy het genoeg.  Vir elkeen is dit ‘n dag van speel, eet en dis verniet en in eerlikheid erken jy dat jy elke dag die voorreg het om te eet en ons Danvilledag laat jou weereens besef, nie almal het daardie voorreg nie, maar een ding het ons almal gemeen, ons almal het die voorreg om ‘n wonderlike genotvolle dag vol omgee, met mekaar te deel en ek is alreeds opgewonde om D.V. volgende jaar deel van so ‘n wonderlike dag te wees.  

 –  Ronel Greyvensteyn

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Uitreik | Comments Off on Skielik besef jy, jy het genoeg

Eredienste in die vakansie

Die wintervakansie (skoolvakansie) breek Vrydag aan.  Dis koud en ons hoop die Kaap kry oorvloedig reën!

Onthou tog dat ons op die Sondae van die skoolvakansie een erediens in die oggend het wat 09:00 begin, en dat ons aanddiens die  Adoramusdiens is wat 18:00 in die kapel plaasvind.  Jy is welkom om die warmte en hartlikheid van medegelowiges tydens dié eredienste in die vakansie te kom ervaar.

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Erediens | Comments Off on Eredienste in die vakansie