Musiek in ’n erediens en jou ervaring daarvan in Stellastraat

Vir n geruime tyd wonder en bedink ek die saak om oor Paasfees se musiek en ons ervaring daarvan te skryf.  Met die week van Pinkster wat verby is het ek tog gevoel dit sal dalk nie skade doen om wel iets oor die musiek in ons   eredienste of wel die ervaring daarvan te skryf nie.

Paasfees was op sy eie ‘n verloop van dienste wat inmekaar gevleg was, en juis so beplan dat indien jy die een diens sou mis, jy nie die werklike prentjie sou kon verstaan van die naweek nie.

Die improvisasie op die kruisiging:

Hier het ons geroer en gekrap waar dit seer maak.  Ons het doelbewus jou laat probeer verstaan waardeur Jesus moes gaan.  Indien jy dink dat dit ligtelik of vir die “show“ was maak jy ‘n groot fout.  Ek kon vir drie dae voor die Wydingsaand nie rustig wees oor wat ons gaan sien nie.  Fick het daardie nag nie ‘n oog toe gemaak nie en ek het soos n kind gehuil na die improvisasie al sien julle my nie raak agter die orrel nie.

Hierdie improvisasie is nie gedoen om te wys wat ons kan baasraak nie, maar wel om te wys hoe rou en seer ons Jesus se kruisdood probeer uitbeeld het.  Vrydagoggend het dr James hieby aangesluit en ons het nagedink oor die feit dat ons ook seer kry, emosioeneel ook mag deel in Christus se lyding, maar ook ons eie lyding.  Die wêreld is nie die beste plek om te wees nie en in daardie twee dae was ons diep bewus dat iets vreeslik gebeur het.

Sondagoggend was dit anders, dit was so anders dat jy vir vyf minute die klokke kon hoor lui.  Die omgewing moes weet iets het verander – Hoor jy die Paasfeesklokke, die Heer is uit die graf!

Sou hierdie so wonderlik kon wees as ons die lyding ligtelik moes aanraak?  Miskien was dit vir jou ‘n vuishou in die maag, maar het dit jou nie bietjie tot besef geruk wat Jesus moes deurmaak nie?  As ons in 12 minute so ontsteld kon raak, het ons dan enige idee waardeur Hy moes gaan?

Pinkster:

Hemelvaartdiens is altyd so ‘n tipe van ‘n vreemde diens, iets wat tog besonder is, maar onwerklik voel.  Soos die week dan van Pinkster verloop, word ons duidelik meer bewus van die Gees wat in ons kom woon het.  Musiek speel die emosionele rol, juis omdat dit daar roer waar woorde nie regtig met jou kan praat nie.  Eintlik wil ek by die volgende uitkom –

  • Musiek in ‘n erediens speel ‘n groot rol, maar nie die hoofrol nie.
  • Woordverkondiging doen, maar musiek ondersteun die verkondiging.
  • Daarom moet jy besef dat indien jy musiekante hoor met baie talent of tegniek dat die dienste NIE hieroor gaan nie.
  • Jy het ‘n emosionele ervaring ja, maar laat dit daar bly.
  • Alle improvisasies wat ek doen word op die teks van daardie lied of die diens gedoen.
  • Dit word nie gedoen om al my truuks of klanke te laat hoor nie –  nee.

Vir my is die erediens nie ‘n vertoning nie.  Dit is ‘n emosionele ervaring, dit is ‘n geleentheid om iets van jouself, hoe gebroke of rou jy ookal is, te kom gee.  Jy weet die enigste ding wat ons met ons menslike ligaam fisies kan gee om vir God dankie te sê is om te sing!  Daarom sal ek nooit instem dat enige erediens se musiek opgeneem word nie.  Hoekom nie?  Dit is nie iets wat so goedkoop kom nie, dit is nie ‘n uitvoering nie, dit is iets wat in daardie oomblik gebeur, gelei deur die Gees en versterk deur die Woord.  Kom liewers weer kerk toe, jy sal dit weer beleef, maar dit kan nooit weer dieselfde wees nie.

‘n Erediens bly vir my ‘n bymekaarkoms van gelowiges waar ons saam kan huil, saam kan juig, maar ook diep nadink oor ons geloof.  Moenie vir my hande klap in ‘n erediens nie (al weet ek dit is dalk net om waardering te wys), maar beleef eerder God se teenwoordigheid in die musiek en die feit dat Hy mense seën met ‘n talent om jou van Sy Grootheid bewus te maak.  Dankie vir diegene wat wel hulle waardering toon na die naspel.

Dus is hierdie stukkie skryfwerk ook ‘n stuk belydenis van my om net te sê – Soli Deo Gloria!

Dankie dat ek in Stellastraat my gawe met julle kan deel.                      

–  Maricus le Grange

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Soos ek dit sien | Comments Off on Musiek in ’n erediens en jou ervaring daarvan in Stellastraat

My oë kan die rook nie hanteer nie

Die normale gesprekspunte bly maar die ekonomie, politiek en waarheen elkeen se familie-bootjie in hierdie onstuimige SA-see oppad heen is.  Dis ons Ooste se praatjies.

Jaarliks sorg Stellastraat dat ons uitreik na onse mense daar in die Weste en elke jaar kom jy daar weg nederig en geweldig verryk.  Dit is daar waar die ‘sout van die aarde’ nuwe betekenis kry; waar die kinders kaalvoet op die koue gras speel, grootoog saamdrom om Chante die hanswors, lekker verf en saam stil raak as Fouché begin praat oor dit wat jy ontvang het.  Maar, dit is ook daar waar dit jou opval hoe lank die tou na die koffietafel is, hoe daar ‘n naderstaan is naby die worsbroodjietafel, as daar ‘n kans is vir ‘n tweede worsbroodjie …  Dit is ook daar waar jy in perfekte Afrikaans gesels met ‘n familie van nege kinders – met niks – almal perfek uitgevat in gister se klere; die ma ‘n wonderlike vrou uit die Noord-Kaap, die man ‘n Zoeloe wat nie meer kan werk nie as gevolg van ‘n beroerte … maar hy het ‘n droom.  Hy wil ‘n Christelike Sportakademie begin om die lokale kinders ‘n doel in die lewe te gee.  Jy praat lank en sê jy sal kyk wat jy kan doen …. met mense praat …

Dan stap jy terug na die worsbraai, Koos bied jou sy oogdruppels aan … ”ja, my oë kan ook nie die rook hanteer nie”.                      –   Anton de Jongh

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Uitreik | Comments Off on My oë kan die rook nie hanteer nie

Skielik besef jy, jy het genoeg

Elke jaar heers daar opgewondenheid oor die uitreik Sondag by Danville en hierdie jaar was ook geen uitsondering nie.  Van baie vroegoggend in die donker word voertuie gelaai met alle nodige toerusting om die Laerskool rugbyveld in ‘n feesterrein te omtower. 

In die winterkoue en warm klere is almal aan die skarrel en vure begin brand en die reuk van boerewors, pannekoek en jaffels hang reeds in die lug en die mense kom aan om deel te wees van ‘n grootse projek wat ons Stellastraters vir hulle bied.

By die koffietafel staan daar sommer vinnig rye, want almal soek ‘n ietsie om hulle warm te maak en ons sing lekker met begeleiding deur Edward en Fouché en Fouché lei die diens en almal begin nou warm kry in die heerlike winterson.

Van die mense gesels sommer spontaan en vertel van hulle lewe en jy luister …  want jy het deernis en empatie en skielik besef jy, jy het genoeg.  Vir elkeen is dit ‘n dag van speel, eet en dis verniet en in eerlikheid erken jy dat jy elke dag die voorreg het om te eet en ons Danvilledag laat jou weereens besef, nie almal het daardie voorreg nie, maar een ding het ons almal gemeen, ons almal het die voorreg om ‘n wonderlike genotvolle dag vol omgee, met mekaar te deel en ek is alreeds opgewonde om D.V. volgende jaar deel van so ‘n wonderlike dag te wees.  

 –  Ronel Greyvensteyn

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Uitreik | Comments Off on Skielik besef jy, jy het genoeg

Eredienste in die vakansie

Die wintervakansie (skoolvakansie) breek Vrydag aan.  Dis koud en ons hoop die Kaap kry oorvloedig reën!

Onthou tog dat ons op die Sondae van die skoolvakansie een erediens in die oggend het wat 09:00 begin, en dat ons aanddiens die  Adoramusdiens is wat 18:00 in die kapel plaasvind.  Jy is welkom om die warmte en hartlikheid van medegelowiges tydens dié eredienste in die vakansie te kom ervaar.

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Erediens | Comments Off on Eredienste in die vakansie

As die kerk partytjie hou!

Vir party mense sou dit klink of die kerk te ligsinnig geword het as hulle moes hoor dat die kerk partytjie hou.  En tog lees ons dikwels in die Bybel dat gelowiges aangemoedig word om vrolik te wees en saam met ander die lewe te vier.  Dit is juis in die uitleef van hierdie vreugde dat ons God se voorsienigheid in ons lewe vier en ook aan ander die geleentheid gee om daarin te deel.

Een van die Bybel gedeeltes wat hierdie feesviering mooi beskryf, is:

Deut 14:24-27

Maar as die Here jou God jou baie voorspoedig maak en die plek wat Hy sal kies om sy Naam daar te vestig boonop nog ver van jou af is, sodat jy nie die tiende die hele ent pad kan dra nie, kan jy die tiende in geld omsit. Jy moet dan die geld vat en na die plek toe gaan wat die Here jou God vir Hom   gekies het.  Daar moet jy met die geld koop net wat jy wil: bees, skaap, wyn, bier, of enigiets anders wat jy wil hê. Dan moet jy en jou familie dit daar in die teenwoordigheid van die Here jou God eet en bly wees. Moenie die  Leviete wat in jou omgewing woon, vergeet nie, want hulle het nie ’n eie grondgebied as besitting saam met jou gekry nie.

 As ons as gemeente dan partytjie hou, mag dit altyd met die besef en die gesindheid wees: “Die Here is goed vir ons. Hy sorg vir ons.”  So geniet mekaar se potte, brode, bykosse, poeding en bowenal vriendskap en geselskap!  –  Tienie Bosman

 

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Onderlinge sorg | Comments Off on As die kerk partytjie hou!

Danville-toe op 10 Junie

Net na gister se Gemeentefees sit ons die partytjie voort met ‘n oggend van pret en saamkuier by Laerskool Generaal Beyers in Danville. Ons nooi 500 mense van die Danville gemeenskap om saam met ons kos te maak en te kuier, en dit is elke jaar ‘n groot makietie!

Ons braai wors, maak spookasem, bak pannekoek en speel ‘n ding raak. Ons het hande nodig wat kan help, so laat weet ons as jy kan saamkom.

Kom help ons asseblief ook om Saterdag 9 Junie van 09:00-11:00 by Stellastraat 120 kospakke te pak vir gesinne om hulle te help deur die wintervakansie. Kospakke kan ook geborg word vir R800, gesels met Fouché (073 234 0156) as jy meer wil weet van hierdie jaar se uitreik.

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
Posted in Uitreik | Comments Off on Danville-toe op 10 Junie