My broer se kraai

Chris Barnard, die skrywer, het ‘n kortverhaal geskryf met die titel “My broer se kraai”.  In die verhaal kom my broer met ‘n beseerde kraai by die huis aan.  Die kraai het sy vlerk gebreek. My broer het met liefde die kraai versorg, die vlerk gespalk en kos en water vir die kraai gegee.  Hy het die beseerde kraai in ‘n koutjie in sy kamer gesit.  Elke dag was dit dieselfde ritueel.  Die kraai kry kos en water en my broer gesels met die kraai.  Die kraai het baie gou gesond geword en die vlerk begin flap.  Almal in die gesin het my broer aangespoor om die kraai los te laat.  My broer wou nie, want het hy gesê “Dit is my kraai”.

Die kraai wou vlieg en my broer wou nie die kraai laat gaan nie.  Die kraai het opgehou eet en al hoe maerder geword.  Op ‘n dag het my broer die waagmoed gehad om die koutjie se deur oop te maak.  Dadelik het die kraai weggevlieg.  Toe het my broer begin siek word – siek van verlange, want sy kraai was weg.  As ons van die skool af by die huis gekom het, het my broer met groot verwagting na die koutjie gehardloop om te kyk of die kraai nie dalk teruggekom het nie.  Maar elke keer het hy met dieselfde terleurstelling aan tafel gaan  sit en geweier om te eet. 

Tot een dag.  Die dag wat hy by die koutjie gekom het en die kraai was terug.  Daar was ongekende vreugde in die huis.  My broer het die koutjie se deur oopgelos en die kraai kon uitvlieg net wanneer hy wou, maar het elke keer weer teruggekom.  Daardie dag het die kraai my broer se kraai geword.

Dit bly vir my ‘n baie mooi storie en wou graag die storie op Charlotte en Abel se troue vir hulle  vertel.  Die verhaal moes hulle aanspoor sodat twee harte wat saamklop mekaar nie insluk nie. Hoe verder ek die storie vertel het, hoe swaarder het ek gekry.  Soveel so dat die trane spontaan my oë laat swem het.  Skielik kom ek agter dat ek die storie nie vir hulle vertel nie, maar vir myself!  ‘n Pa wat sukkel om die koutjie se deur oop te laat.

Gister het ek die pasgetroudes op die lughawe gaan haal.  Hulle gelukkige saamwees het my gerus gestel.  Ons dogter het ‘n nuwe koutjie gekry, maar sy sal altyd ons dogter bly.

–  Tienie Bosman

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
This entry was posted in Soos ek dit sien. Bookmark the permalink.