Huis is waar jou hart is

Ons ken dit almal.  Jy koop ‘n nuwe kar en ewe skielik sien jy net oral om jou soortgelyke karre.  Die ding waarop jy fokus, neem jou brein oor.  Mari vra juis hierdie week “Waaroor gaan ons praat as ons nou eers klaar getrek het?”  Die laaste paar weke is trek al waaroor ons praat.  Na sewentien jaar in die pastorie in Olivierstraat gaan ons weer in ons eie huis bly.  En toe lees ek op LitNet die besondere bydrae van Annali Coetzee in ‘n skryfkompetisie van 2017:

 Huis is waar jou hart is

 As kind was huis     
Die reuk van varsgesnyde gras as ek by die huis kom van die skool af
Die veilige hawe van my ma se sagte arms as ek bang is
En krap van my Pa se baard as ek hom druk

 As tiener was huis
Die donker, koue koshuiskamer wat ek met drie ander moes deel
Die smaaklose kos wat vassit in my keel
Die irriterende gelui van die koshuisklok

 As student was huis
Die lang kronkelpad wat ek elke naweek moes ry
Lang geselsies met my eerste regte pel
Die sagte gedreun van die yskas in my eenmanwoonstel

 As jong getroude vrou was huis
My man se warm lyf as ons lepel-lê
Moerkoffie wat met liefde gemaak is
En klipharde vetkoek van my eerste probeerslag

 As ma is huis
Die sagte giggellaggies van twee dogtertjies
Bruin moddervoetjies op die kombuisvloer
Rustige aandetes om die ou hout-kombuistafel

 Huis is nie net die tuiste waarin jy bly nie
Dit is in alles wat jou omring
’n Veilige bekende kring

Huis is waar jou hart is

So tussen oppak en intrek sal ek probeer onthou dat huis is waar jou hart is.  Dit is nie so belangrik waar ‘n mens bly nie.  Dit is hoe jy daar bly, wat saak maak.

 

–  James Kirkpatrick

  • Facebook
  • Twitter
  • email
  • Google Bookmarks
  • Print
  • PDF
This entry was posted in Soos ek dit sien. Bookmark the permalink.