Ons onmiddellike reaksie op die landwye staking deur staatsamptenare is een van verontwaardig-ing. Dit is ondenkbaar dat onderwysers hulle eie belange bo die belange van skoolkinders plaas. En hospitaalpersoneel bereid is om siek en afhanklike mense net so te los. Wat nog meer ontstellend is, is die gewelddadigheid wat saam met die staking gaan. Die onnodige stukkendmaak van goed. Dit is so selfvernietigend! Kan die stakers dit nie besef nie?
Maar, ek wil ‘n lansie breek vir die staking. In ‘n demokrasie het alle mense dieselfde waarde en het almal een stem. Nadat die leiers vir die Nuwe Suid-Afrika verkies is, het daar ‘n gaping tussen die gewone burgers en hulle leiers ontstaan. Die leiers het onbeskaamd hulle hande in die geld-koffers begin steek, en heel te maal vergeet van die massas wat vir hulle gestem het. Hulle het so obsessief met geld en mag geword, dat hulle hulle eie ideale van die vryheidsmanifes vergeet het.
In ‘n sekere sin is die staking ‘n massabeweging van die ANC se gewete. “Ons is ook hier. Het julle ons vergeet? En as julle nie mooi onthou nie, ons het geweld gebruik om die ou regime omver te gooi. Ons herinner julle wat mens met geweld kan bereik.” Of ons daarvan hou of nie, gewelddadige stakings is die enigste taal wat die bevryde massas ken. Hulle weet dit bring verandering mee. Vir ons witmense is die manier waarop daar gestaak word onaanvaarbaar. Ons is nie so nie. Maar, in ons harte het ons simpatie met die stakers. Ons weet hulle het goeie reg om te voel soos hulle voel.
Wat baie sleg gaan wees, is as die soort stakings die toekoms van demokrasie gaan kenmerk. Dat mense altyd ‘n gewelddadige wringkrag moet gebruik om hulle ontevredenheid te wys. Dit is so jammer dat mense nie volwasse kan luister, en begrip vir mekaar ontwikkel nie. En dat regeerders nie besef dat hulle in die eerste plek verkies is om die belange van kiesers te dien nie.







